Markoorsig: September 2014

Hoe om ’n hoë risiko beleggingsfoefie uit te ken

Daar is nie ’n eenvoudige reël om ’n hoë risiko beleggingsfoefie te onderskei van ’n wettige belegging nie. Die nagevolge daarvan om in só ’n skema gevang te word, is nie net vernederend nie, maar jy verloor gewoonlik meer as die beloofde opbrengs – jy verloor jou kapitaal ook!

Daar is egter ’n hele paar dinge wat jou kan waarsku dat jy moontlik met ’n beleggingsfoefie te doen het – hier is ’n paar van die waarskuwingstekens:

  1. Daar word ’n lekker stywe opbrengs per jaar gewaarborg. Risikovrye opbrengs is gewoonlik hier in die omgewing van so 7%. Alles bo 7% vereis die neem van risiko. Die bes-presterende bateklas oor lang periodes van tyd is aandele, waar die langtermynopbrengs rondom 12½% is, wat natuurlik gepaard gaan met markbewegings en verseker nie elke jaar dieselfde is nie.  Kortom – as jy opbrengste bo 15% belowe word en dit word boonop vir elke jaar belowe, moet jy dit as ’n (baie helder) rooi lig beskou. Die vraag is nie óf dit gaan platval nie, maar wanneer!
  2. Die “skelm� beleggingsadviseurs kan jy altyd deur ʼn ring trek. Hoe beter die verkoopspersoon aangetrek is, hoe groter die kans dat jy gevang gaan word, soos dr Simon Marais dit op Sakegesprek toegelig het. Pasop vir daardie blink skoene, snyerspak en die veelkleurige brosjure!
  3. Die oomblik wanneer daar eksklusiwiteit of dringendheid aan die belegging gekoppel word, is daar gewoonlik ’n slang in die gras. Dit word aan jou voorgehou as ’n beperkte aanbod en dat jy vinnig moet besluit anders gaan die geleentheid by jou verbygaan – wel, laat hierdie geleentheid so vinnig moontlik verbygaan!
  4. Die produk is baie kompleks en daar is een of ander geheime resep (wat net hulle ken) agter die opbrengste. Hoe meer kompleks en hoe meer vertroulik die produk, hoe groter is die kans dat jy jou kapitaal gaan verloor.
  5. Jy word vertel van ander baie suksesvolle beleggers wat fenomenale opbrengste verdien het. Die probleem is egter dat hulle jou geld nodig het om hierdie opbrengste te kan betaal. Net soos die jakkalse nog nuwe beleggers moet oorreed om jou van ’n opbrengs te voorsien.
  6. Jy moet weet wat die bate is wat die opbrengs moet lewer. In ’n eiendomsbelegging staan daar ’n gebou; as jy ’n aandeelportefeulje of groeifonds het, besit jy ’n belang in ’n besigheid – dit is wanneer jy nie jou hande op die onderliggende bate kan lê nie, dat daardie bate gewoonlik nie so veilig is nie.

Wat sou ek graag in my twintigs van geld en beleggings wou weet?

Oor werk en jou houding tot werk

  1. Terwyl jy jonk is, is dit belangrik om die regte werkgewer te kies en nie te fokus op die grootste beginsalaris of langste titel nie. Dit is baie makliker om vinniger opgang te maak in ’n besigheid wat in ’n groeifase is, as om vooruit te gaan in ’n groot, lomp stagnerende groep. Jy sal gou meer verantwoordelikheid kry en daarmee saam bevorder word in ’n kleiner groeiende onderneming, as in groot maatskappye.
  2. Fokus op die verkryging van vaardighede en los die druk vir ’n groter salaris vir later in jou lewe. Terwyl jy jonk is, kan jy fokus daarop om jou vaardighede op te bou en om ervaring op te doen op verskillende gebiede. Dit gaan jou later in jou loopbaan baat. Verdien eerder nou R10 000 of R20 000 minder elke jaar, sodat jy later ’n honderd of twee duisend rand meer kan verdien.
  3. Volg eerder jou passie as om elke sent te probeer najaag. Die ideaal gaan wees om later jou passie so goed te doen dat iemand jou daarvoor gaan betaal en dan sal jy “nooit ’n dag in jou lewe hoef te werk nie�. Dit is doodeenvoudig waar dat mense wat passievol is oor wat hulle doen, altyd meer suksesvol is as mense wat bloot die werk doen vir die salaris aan die einde van die maand. “Jy moet vir meer werk as net jou salaris.�

Oor geld en die waarde van geld

  1. Vereffen jou kredietkaarte, winkelrekeninge en korttermyn lenings altyd binne die rentevrye periode. Geen beleggingsopbrengs kom by die na-belaste koste van korttermyn rentekoerse nie, veral nie as jy jou kruideniersware oor ses, 12 of selfs 48 maande probeer finansier nie.
  2. Maak seker jy struktureer ’n finansiële plan vir jouself. Onthou, selfs ’n basiese plan is beter as geen plan nie. Hierdie plan moet insluit: die positiewe invloed van saamgestelde rente / opbrengste en ook die navolging van ’n haalbare begroting. 
  3. Verstaan wat beleggings is. Onthou daar is ’n groot verskil tussen om te spaar en om te belê.  Spaar is om geld aan die einde van die maand oor te hê en rente op die surplus te verdien; belê is om daardie geld in groeibates aan te wend wat oor die langtermyn vir jou ten minste ’n opbrengs hoër as die inflasiekoers gaan bied. Terwyl jy jonk is, het jy baie lang horisonne wat die voordeel van samegestelde groei aan jou bied en uiteindelik verseker dat jou geld vir jou werk.
  4. Geld maak jou nie gelukkig nie. As jy byvoorbeeld genoeg geld verdien om ’n eerste motor te kan aanskaf, in plaas daarvan om te moet stap, maak die geld om ’n motor te kan aanskaf ’n groot verskil aan die kwaliteit van jou lewe. Die verskil  tussen ’n twee-liter en ’n drie-liter sportmotor maak egter nie veel van ’n verskil in hoe gelukkig jy is nie. Hoe meer geld jy later verdien, hoe kleiner is die invloed van nog ’n ekstra miljoen op jou uiteindelike geluk. Geluk is om iets te doen waarvan jy hou en wat jou intellektueel en emosioneel stimuleer deur die hele maand, nie net op betaaldag nie!

Net om die hele appelkar om te gooi – in een van die Sakegesprek met Theo Vorsteronderhoude het ek vir Suid-Afrika se grootste media en elektroniese entrepreneur die volgende vraag gevra: “Met jou kennis vandag, wat sou jou raad aan ’n 20- jarige Koos Bekker gewees het?â€� Koos Bekker se antwoord was kort en tot die punt: “Moenie vir Koos luister nieâ€�. Hy het hiermee bedoel dat elkeen sy eie mens moet wees en sy eie toekoms moet bou. Ek dink tog dat daar beginsels is wat ons almal, miskien selfs ’n 20-jarige Koos, met waarde in ons eie lewe kan toepas.

 

Beleggingsprestasie tot einde September 2014

Hierdie ontledings en samestelling is bloot uit die onderskeie indekse gemoduleer. Onthou dat historiese prestasie nie noodwendig ’n voorspeller van toekomstige prestasie is nie.

 

Kommentaar

In die prestasiesyfers tot einde Augustus het ek gewaarsku dat die mark rondom 20% oorprys kan wees. Hierdie was gebasseer op beide fundamentale redes, asook die feit dat die mark nou reeds vir ’n lang periode bo-gemiddelde groei geniet het, en dat ons een of ander tyd hiervoor sal moet betaal – gewoonlik in die vorm van laer prestasies vir ’n jaar of twee.

In die kwartaal tot einde September was die prestasie inderdaad negatief met die daling van die hoogtepunt wat op ’n stadium 7% beloop het. Hoewel ek nie skerp dalings verwag nie (daar is steeds net te veel goedkoop kontant in omloop, ons groter maatskappye se waardes word op internasionale markte bepaal en ander bateklasse bied nie ’n werklike sinvolle alternatief nie), meen ek dat ons moet regmaak vir laer opbrengste en meer wisselvalligheid in opbrengste.

Beleggers moet steeds fokus op diversifikasie tussen bateklasse en seker maak hul is gemaklik met die moontlike wisselvalligheid in die waarde van bateklasse vorentoe.

Japie Grobler

Boer en President: Agrisektor-forum

Theo se gas is Japie Grobler, vooraanstaande boer. Hy is reeds vir dekades ’n leidende figuur in georganiseerde landbou in Suid-Afrika. Die gesprek begin by Japie se besluit om eers sy regsgraad te voltooi alvorens hy saam met sy pa begin boer. Hy gee sy opinie oor wat nodig is vir ’n pa en seun om suksesvol saam te boer. Japie vertel ook hoe dit in sy geval goed uitgewerk het.

Die gesprek staan stil by Japie se termyn as voorsitter van Senwes. Theo vra Japie uit oor wat hulle reg gedoen het om die maatskappy van ’n tegniese bankrotskap na’n suksesvolle onderneming om te swaai. (Met Japie se uittrede verlede jaar het Senwes sowat R260m wins gemaak.)

Japie deel sy advies aan jong boere. Hy beklemtoon van die foute wat boere maak. Aangesien hy steeds nou betrokke is by georganiseerde landbou deel hy sy ingeligte opinie oor grondhervorming. Hy sê waarom hy positief is en gee sy indrukke van die huidige debat. Japie glo dat boere en die regering wel by ’n sinvolle oplossing gaan uitkom.

Jan van Heteren

Restourant- en hotel-entrepreneur

Vanaand is Theo se gas Jan van Heteren. Jan het grootgeword in die restourantbedryf. Sy pa, ’n immigrant uit Nederland, het een van Pretoria se spogrestourante besit. Daar het hy gesorg dat sy seuns van skooldae af daagliks in die restourant werk. Hy praat in die program oor sy beroepsopsies om te moes kies tussen om ’n kommersiële vlieënier te word en om die restourantbedryf te betree.
Hy vertel van die besluit om sy eie restourant oop te maak, waarna hy vir 14 jaar by twee baie suksesvolle restourante betrokke was as mede-eienaar en bestuurder. Hy en Theo gesels oor wat hulle reg gedoen het in ’n industrie waarin mense maklik faal. Die rol wat hulle gespeel het in die verandering van die restourantbedryf in Suid-Afrika kom ook onder die loep.

In die laat 90’s het Jan, as ultimatum van sy toekomstige vrou, besluit om die restourantbedryf te verruil vir boetiekhotelle in wildreservate. Jan vertel hoe hulle dit reggekry het om Jaci’s Lodges, een van hulle eerste boetiekhotelle, as een van die top 100 hotelle in die wêreld aangewys te kry. Theo en Jan bespreek die verskille tussen die bestuur van ’n hotel en ’n restourant, asook die redes waarom hy uitgebrei het na onder andere ’n unieke hotel in die Kaapse middestad.

Jan gee advies aan mense in die hotel- en restourantbedryf. Hy brei uit oor wat dit verg om suksesvol te wees in ’n veranderende bedryf, met veeleisende kliënte. Hy deel die raad wat hy aan sy twee seuns gegee het toe hulle aandui dat hulle in sy voetspore wil volg. Sy advies is dat dit die seuns 10 jaar sal neem alvorens hy meen hulle reg sal weees om die gasvryheidsbedryf met sukses te betree.

Piet Mouton

Uitvoerende hoof, PSG Groep

Vanaand is Theo se gas Piet Mouton, uitvoerende hoof van die PSG Groep. Piet vertel oor die daaglikse sakegesprekke in sy ouerhuis en die uitdagings om as ’n 34-jarige by sy pa Jannie as uitvoerende hoof oor te neem. Toe Piet in Junie 2010 as uitvoerende hoof aangestel is, was PSG se markwaarde R5,5 miljard. Vandag is die maatskappy se markwaarde meer as R20 miljard. Theo vra Piet uit oor hierdie groei onder sy leiding en bespreek van die faktore wat daartoe bygedra het.

Hulle gesels ook oor Piet se rol en wat hy van die senior mense en filiaalmaatskappye in die groep verwag.

Hy verduidelik hoe dit gekom het dat die afkorting “PSG� onder van die senior mense in die groep bekend staan as “Piet se geld�.

Piet verduidelik ook waarom hy graag van sportvergelykings gebruik maak om besigheid te verduidelik. Hy is optimisties oor PSG en vertel waarom die groep omtrent al hulle kapitaal in Suid-Afrika aanwend.

Sven Thieme

Uitvoerende voorsitter Ohlthaver & List

Theo se gas vanaand is Sven Thieme, uitvoerende voorsitter van die Namibiese groep Ohlthaver & List.

Hierdie familiebesigheid is in 1919 gestig en word vandag deur Sven, ’n kleinseun van die oorspronklike stigter bestuur. Die onderneming het ’n jaarlikse omset van sowat R5 miljard en bied werk aan meer as 5 000 mense. Die groep is in Suid-Afrika veral bekend vir Windhoek Lager, ’n bier wat hulle sedert die 1920’s brou.

Behalwe vir sy rol by O&L is Sven voorsitter van die Namibiese Uitsaaikorporasie en president van die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid. Hy dien ook op die Namibiese Beplanningskommissie. Theo gesels met Sven oor sy vyf kritiese punte vir “deurbraakdenke�. Theo pols Sven oor sy manier om amper onbereikbare doelwitte te stel en hoe die skep van ’n kunsmatige krisis om hierdie doelwitte te bereik, onderliggend tot die sukses van die groep is.

Hulle gesels oor hoe O&L dit regkry om gereeld aangewys te word as die beste werkgewer in SADEC en die rol wat bestuur speel om mense gelukkig te hou.

As ’n familiebesigheid wat 95 jaar oud is, deel Sven sy filosofie oor suksesvolle familie-ondernemings. Hy brei ook uit oor die grootste fout wat só ’n onderneming kan laat struikel. Sven gesels oor hul strawwe doelwitte vir 2019 wanneer hierdie groep 100 jaar oud word.