Geseënde Kersfees

Beleggingsprestasie tot einde November 2014

Vir beleggers was die afgelope 12 maande tot einde November 2014 steeds ’n uitstekende periode. Groeibates het inflasie se 5,9% verarming met gemak geklop, soos uit die syfers duidelik blyk. Ek hou steeds by die punt dat die mark relatief duur is en dat ons een of ader tyd ’n periode van laer opbrengste gaan beleef. Die afgelope 12 maande se 14,4% groei in aandeelpryse was reeds laer as die afgelope vyf jaar se 16,5% p.j. en die afgelope 10 jaar se 18,2% p.j., as die JSE Algehele Indeks as maatstaf gebruik word.

Hierdie ontledings en samestelling is bloot uit die onderskeie indekse gemoduleer. Onthou dat historiese prestasie nie noodwendig ’n voorspeller van toekomstige prestasie is nie.

Beleggers sal hulle moet staal vir meer wisselvalligheid (die direkte Engelse vertaling van volatiliteit klink darem bietjie sagter) en ook die moontlikheid van teleurstellings, soos ons met African Bank (ABIL) ervaar het, en nou ook met Sasol sien.

Die huidige meer as 35% daling in die aandeleprys van Sasol (van R645 in Junie tot net bo R420 tans) wys weer eens die waarde van diversifikasie. Sasol bly ’n uitstekende besigheid met uitstekende bates en wêreldklas tegnologie, maar die olieprys wat vanaf $115 per vat tot onder $70 per vat oor dieselfde periode gedaal het, het alle olie en petroleum maatskappye geraak. Hierdie rondte gaan die Opec lande sorg dat markkragte die marginale nuwe produsente uit die mark  forseer.

Kyk hier na my onlangse Dagbreek onderhoud waartydens ek my opinie oor die olieprys en Sasol gee: http://youtu.be/GPAOIlbcnVM

Ons toekoms

Daar het die afgelope tyd heelwat artikels verskyn oor Suid-Afrika en die toekoms van die land. Die grafiek hieronder wys die prestasie van die JSE teenoor ander wêreldmarkte, in VSA dollar terme. Die JSE het tot ’n groot mate ’n wêreldmark geword wat ander wêreldmarkte en wêreldgeldeenhede volg, onder andere omdat die meerderheid van die JSE se top maatskappye se pryse internasionaal bepaal word. Die meeste van hierdie maatskappye se besigheid word buite Suid-Afrika gedoen en ’n groot deel van hierdie maatskappye se aandeelhouers is buitelandse beleggers.

Kan geld geluk koop?

’n Paar goue, of beter nog, sjokolade reëls

Hierdie is ’n onderwerp wat ons reeds bespreek het, maar aangesien nuwe navorsing gepubliseer is, ondersoek ons weer die vraag. Na aanleiding van ’n onlangse artikel in die Wall Street Journal – as mens die navorsing in diepte bestudeer - is daar nie noodwendig ’n voor die hand liggende oplossing nie.

Die jongste navorsing bewys dat dit nie soseer welvaart is wat ’n gelukkige lewe waarborg nie, maar eerder hoe mens jou beskikbare geld bestee. Die gevolgtrekking wat deur die navorsers bereik word, is dat dit mense gelukkiger maak om geld weg te gee as om geld op hulself te spandeer. Verder put mense meer geluk daaruit om geld op ervarings soos reis en uiteet te spandeer as die bymekaarmaak van materiële goedere. Die volgende vraag waarop navorsers dan fokus is of mense  hul spanderingspatrone kan aanpas om gelukkiger te wees?

  • Ervaring teenoor luukse artikels

Prof. Howell, ’n professor in sielkunde in San Francisco, het navorsing gedoen om die verskil in die uitkoms van geluk te vergelyk tussen die spandering van geld op ’n ervaring (bv. vakansie) teenoor spandering van geld op ’n luukse produk. Prof. Howell het tot die gevolgtrekking gekom dat mense meer waarde uit ’n ervaring put, al gaan dit gou verby, as uit ’n luukse, duursame aankoop  in die langer termyn.

Die fout wat mense maak noem hy “misforecast�. Mense dink verkeerdelik hulle gaan beter waarde en geluk uit die luukse aankoop kry as uit die korter ervaring. Wanneer mense egter later terugkyk, is dit duidelik dat die ervarings nie net meer waarde gebied het nie, maar ook meer geluk tot hul lewens gevoeg het.

Prof. Gilovich van Cornell stem hiermee saam en voeg by dat mense aanpas by materiële aankope en later nie meer geluk en waarde daaruit put nie. Ons raak gou gewoond aan nuwe besittings soos ’n nuwe motor of nuwe klere. ’n Spesifieke ervaring soos ’n reis bly ’n leeftyd by jou en word deel van jou menswees. “ ’n Staptog in die Himalayas bly jou lewe lank deel van jou ervaringswêreld terwyl selfs die luuksste artikel dan al ashoop toe is,� is hoe hy dit omskryf.

Aangesien ons aanpas by luukse materiële artikels, word die waarde en genot wat jy daaruit put al hoe minder. Een van die tegnieke om dit teen te werk, is om tydelik van die luukshede weg te pak pak of selfs net om ’n kunswerk te skuif sodat ons dit weer kan waardeer. Prof. Dunn van British Columbia Universiteit gebruik die voorbeeld van sjokolade om hierdie beginsel te illustreer. Sy deel haar studente in drie groepe. Een groep kry oorgenoeg sjokolade en moet dit deurlopend eet, die tweede groep kry dieselfde hoeveelheid sjokolade soos hulle gewoonlik eet en die derde groep word vir ’n periode ontneem van enige sjokolade.

Watter een van hierdie drie groepe geniet die sjokolade die meeste?  Dit is voor die hand liggend. Die mense wat ontneem is van die sjokolade geniet dit baie, baie meer as die lede van die ander twee groepe. Deur jouself te ontneem van luukshede kan jy die waarde en genot daarvan verleng en jouself help om nie bloot daaraan gewoond te raak nie.

  • Gee geld weg

Dit maak mense gelukkiger om geld vir ander te gee as om dit op hulself te spandeer. Hierdie genot word gedeel deur mense in verskillende lande en ook in verskillende klasse. Verskeie akademiese studies in veskillende lande onder verskillende klasse in die samelewing bevestig hierdie beginsel. Die geluk wat geput word uit om te gee, hang nie af van die hoeveelheid geld wat gegee word nie (of hoe ryk of arm jy is nie), maar oor die verskil wat die geld in iemand anders se lewe kan maak.

  • Koop tyd

Een van die beter beleggings wat gemaak kan word, is om tyd te koop. Die toonaangewende studie deur Alois Stutzer en Bruno Frey van die Universiteit van Zurich het probeer vasstel wat die invloed van die afstand tussen jou huis en werkplek op jou inkomste en geluk is. Koop ek ’n groter luukser huis verder van my werkplek, tesame met ’n nuwe luukse motor of spandeer ek eerder meer geld op ’n kleiner huis nader aan die werk sonder om die luukse motor vir die daaglikse rit te koop?

Die gevolgtrekking van die navorsing was kortliks dat vir elke uur in die verkeer van en na die werkplek, moet jy  ten minste 40% meer verdien om  dieselfde waarde gemeet aan wat die groter huis en luukser motor tot jou geluk bydra, te regverdig. Anders gestel, jy moet 40% meer verdien om op te maak vir die ongelukkigheid en frustrasie wat die ekstra tyd in die verkeer meebring!

  • Nou wat nou?

Wat wel uit die meeste studies vasgestel kan word, is dat, indien jy nie geld het nie, enige ekstra geld ’n groot verskil aan jou geluk maak. Daar kom egter ’n punt wanneer die ekstra geld nie meer ’n groot verskil maak nie en waar dit moeiliker word om geluk te koop. Dit is hier waar wyser  spandering van die geld belangrik word!

Wat soos ’n paal bo water staan is dat indien jy geld spandeer wat jy nie het nie, jy verseker op die verkeerde pad is. Dan werk niks van hierdie opmerkings nie.

(Skakel na die volledige artikel: http://on.wsj.com/1tv8DgS)

Aanbevelings vir 2015

Ek maak baie min direkte beleggingsvoorspellings, maar wil tog twee voorspellings waag. Die een is meer  ’n waarskuwing en die ander ’n aanbeveling.

  1. Valutahandel (forex trading) Indien jy aktief met valuta handel, is die kans 68% dat jy elke kwartaal geld gaan verloor. Die meeste mense wat aktief valuta handel se kapitaal hou nie veel langer as vier maande  nie, dan is dit alles op, aldus Bloomberg. Dit is uiters riskant en bykans onmoontlik vir enige individu om met die banke se spesialiste te probeer kompeteer en om dan nog te dink jy gaan hulle uitpresteer deur self te spekuleer. Jou kanse is niks beter as jou kanse by ’n dobbelhuis nie, maar sonder die mooi meisies en eetgoed. Onthou die gesegde “active trading is bad for your wealth� van Prof. Odean van Berkley.
  2. Koop Sjokolade Teen die jaar 2020 gaan die vraag na goeie kwaliteit sjokolade die aanbod met meer as ’n miljoen ton per jaar oorskry en teen 2030 gaan hierdie jaarlikse tekort meer as twee miljoen ton wees. Goeie kwaliteit sjokolade is vining besig om ’n delikatesse te word, volgens Mars Inc. (die wêreld se grootste sjokolade maatskappy). Die kakao-oes is eenvoudig nie groot genoeg om aan die groeiende behoefte en vraag te voldoen nie. Ons voorland is ’n kunsmatige laboratorium produk – soos rose wat nie meer soos rose ruik nie!

My beleggingsaanbeveling vir 2015: Kwalitiet sjokolade teen huidige pryse gaan jou nie net gelukkiger maak nie, dit is boonop ’n winskoop!