Beleggingsprestasie tot einde Desember 2014

Die JSE aandelemark het die afgelope 12 maande ’n opbrengs gelewer van net minder as 11%. Die syfer dui aan dat die mark wel inflasie goed uitpresteer het, alhoewel die groei heelwat minder is as die gemiddelde vyf- en 10-jaar syfers. Ek dink dit is baie gesond, markte kan eenvoudig nie in ’n reguit lyn opwaarts beweeg nie.

Die vyf- en 10-jaar groeisyfers wat gemiddeld tussen 15% en 18% per jaar gelewer het, is volgens my nie volhoubaar nie. Beleggers se verwagtinge moet laer gestel wees vir die voorsienbare toekoms en die trant van groei gaan nader wees aan wat ons die afgelope 12 maande gesien het.

Welkom in 2015!

As julle na voorspellings luister, maak julle gordels vas…

Aan die begin van elke jaar is daar altyd hope vooruitskattings, senario’s en ’n sak vol raaiskote. Die een ding wat jy verseker van voorspelling weet is dat voorspellers, of dit nou analiste, ekonome of weerkundiges is, nie altyd baie akkuraat is nie. Enige ekonomiese of finansiële voorspelling vir ’n periode langer as drie jaar is gewoonlik nie akkuraat nie. Die kans is eerder goed dit gaan verkeerd wees.

As jy in die kristalbal die korrekte bateklas-wenners kon sien vir die jaar 2014, was twee van die wenners koffie met 58% groei en ook VSA biefstukpryse wat met 42% gestyg het.

Die grootste veranderlike die afgelope ses maande was die olieprys. Die prys van olie het meer as halveer (van rondom $115 per vat in die middel van die jaar na vlakke van om-en-by $50 per vat tans). Dit het tot groot veranderinge in aandeelpryse van energiemaatskappye gelei. (Sasol daal van R645 tot R400.) Dit is gevolg deur dalings in brandstofpryse wêreldwyd. Die resultaat is ’n vloei van olie-kostes/-winste weg van lande wat olie produseer na lande wat olie invoer.

Ek weet van geen analis, ekonoom of weerkundige wat hierdie reeks gebeurtenisse reg voorspel het nie. Daardie ouens wat nou meen dat hulle dit reg voorspel het is diegene wat 18 van die laaste twee dalings reg voorspel het – onthou, ’n stukkende horlosie is twee maal ’n dag korrek.

Nou waar laat dit ons aan die begin van 2015? Ons weet dat die Amerikaanse ekonomie sterk aan die optel is; dat die Europese ekonomieë al meer begin swaar trek met veral Duitsland wat gaan sukkel om positief te bly groei; dat die Chinese waarskynlik hul ekonomiese groeidoelwitte gaan verlaag na rondom 7% en dat Rusland gaan struikel teen die agtergrond van sanksies en ’n lae olieprys, saam met al die ander olieprodusente. Uiteraard gaan hierdie uiteenloplende posisies lei tot noemenswaardige kapitaalvloei veral vanuit opkomende markte, waaronder Suid-Afrika tel, na ’n sterk VSA ekonomie met stygende rentekoerse.

Maar voordat ek my eie (foutiewe) kristalbal uithaal – miskien so ’n paar vooruitskattings van mense wat baie meer weet, maar steeds nie gesien het dat die olieprys-situasie sou gebeur nie:

Die vooraanstaande VSA beleggingsbank Goldman Sachs (kort opgesom), meen dat die wêreld sterker gaan groei as in 2014 (3,4% teen 2014 se 3%), met die verskil van sterk groei in die  VSA (3,2%) en swakker groei in Europa (0,9%) en met China wat gaan afplat (na 7% groei).

Die wêreld het elke jaar sedert die tweede wêreldoorlog gegroei, met een uitsondering. Dit was die finansiële krisis van 2009. Let ook daarop dat, indien die wêreld teen 3,4% groei, dit beteken dat die grootte van die wêreld-ekonomie basies elke 20 jaar gaan verdubbel!

Wat opkomende lande betref – die lande wat kommoditeite uitvoer (soos Suid-Afrika), gaan swaar trek onder laer pryse, terwyl lande wat vervaardig voordeel sal trek uit ’n sterk VSA. Rentekoerse in die VSA gaan begin styg tesame met die Amerikaanse dollar wat sterker gaan word. Goldman Sachs verwag dat die olieprys vir die loop van die jaar op laer vlakke gaan bly. Wat beleggingsmarkte betref sien Goldman Sachs minder wisselvalligheid as in 2014, maar verwag dat opbrengste laer gaan wees. (Voordat jy alles hiervan glo, onthou hierdie is die ouens wat so paar jaar gelede ’n $200 olieprys voorspel het.)

Soos elke jaar is daar ’n legio risiko’s wat hierdie senario omver kan werp. China se groei kan steier onder hul interne skuldlaste; die Eurosone val uitmekaar; kapitaal storm uit opkomende markte na ’n sterk VSA dollar en jaag (ietwat) hoër Amerikaanse rentekoerse; of selfs ’n geo-politiese krisis ontstaan (Noord-Korea raak wild, ISIS lê die hele Midde Ooste lam, Putin se geduld met sy buurstate raak op, ens.). Die wêreld het egter voorheen reeds gewys dat indien die groot moonthede nie almal direk betrokke raak nie, sulke situasies as streeks-gebonde konflikte hanteer kan word.

Waar laat dit Suid-Afrika?

Soos dit nou lyk (onthou ons is uiters swak om groot veranderinge reg te voorspel, so neem hierdie met ’n sak sout), gaan ons groei darem bietjie beter wees (nader aan 2,5% as ons gelukkig is, steeds ver onder die 5% na 6% om werkloosheid aan te spreek); werkloosheid gaan rondom 25% bly (wat beteken daar is meer as 2,5 miljoen mense wat maandeliks onsuksesvol soek na werke wat nie bestaan nie plus 2,5 miljoen mense wat tou opgegooi het en nie eers meer die moeite doen om aktief te soek nie); die laer petrolprys gaan beteken dat inflasie gerieflik binne die Reserwe Bank se teikens bly en dat stygings in rentekoerse (indien dit gaan gebeur) minder en later in die jaar gaan wees; ons gaan meer belasting moet betaal (die owerheid soek ekstra geld) en die rand, onder die druk van ’n sterk dollar (veral a.g.v. kapitaalvloei uit die opkomende markte na die VSA) en tekort op ons betalingsbalans, gaan die wind van voor kry.

As jy wil geld maak uit voorspellings kan jy jou geld 16-keer verdubbel as jy meen Suid-Afrika gaan in 2015 beide die krieket- en rugby-wêreldbekers wen. Ek beskou hierdie kansvat in dieselfde lig as iemand wat beleggings maak suiwer op grond van voorspellings.

’n Paar feite oor beleggings, net om seker te maak ons fokus op die regte dinge

  1. Gedurende die periode vanaf 1928 tot 2013 het die VSA-mark met ’n faktor van 2 000 keer verdubbel. Oor dieselfde periode het die VSA-mark egter in 20 afsonderlike gevalle met meer as 20% gedaal.
  2. Sedert 1980 het 40% van Amerikaanse aandele in ’n stadium ’n daling van meer as 70% beleef – à la JP Morgan.
  3. Oor die afgelope 20 jaar het 72% van effektetrusts en groeifondse nie die onderliggende indeks in die VSA geklop nie (volgens Vanguard). Hierdie syfers is in lyn met Suid-Afrikaanse beleggings wat nie ons eie indekse (JSE) kan klop nie.

Teen hierdie agtergrond is die volgende opgedateerde studie (JP Morgan, Januarie 2015) baie insiggewend. Dit wys die groei van verskillende bateklasse in die VSA oor die 20-jaar periode vanaf 1994 tot einde 2013.

Die groei stel die jaarlikse saamgestelde groei van ’n seleksie bateklasse voor en wys dan hoe die gemiddelde VSA-belegger presteer het relatief tot die bateklasse.

Kommersiële eiendom

10.3%

Aandele (S&P 500)

9.2%

Goud

5.8%

Rentedraende effekte

5.7%

Woonhuise

3.1%

Gemiddelde belegger

2.5%

Inflasie

2.4%

Ten minste het die gemiddelde belegger darem (net, net) inflasie geklop. Die vraag is waarom die belegger nie die opbrengste verdien wat die mark gegee het nie. Die rede is kortliks dat mense emosionele besluite maak en nie in die mark bly vir die langtermyn-opbrengste wat die mark bied nie en ons oorskat ons vermoë om te raai wat die mark gaan doen voor die mark beweeg. Die ander probleem is dat beleggers te veel aan kostes wegbetaal vir mense wat nie die mark kan klop nie (punt drie hierbo).

Hoe kom die belegger verby hierdie emosionele boete van onderprestasie – die 2,5% groei terwyl markte heelwat meer gelewer het?

Die antwoord bly om te fokus op ’n lae-koste gediversifiseerde beleggingsportefeulje, tesame met ’n langtermyn-plan wat by jou eie doelwitte en risikoprofiel pas.

Hoe om swak beleggingsadvies te identifiseer

Dan Solin, die New York Times joernalis, lig drie gevalle uit van hoe om te identifiseer dat jy swak beleggingsadvies kry:

  1. As die adviseur jou probeer oortuig watter aandeel of aandele die volgende jaar beter as ander gaan presteer en dat hy/sy oor die vermoë beskik om hierdie aandele uit te kies.
  2. As die adviseur jou probeer oortuig dat hy/sy weet wanneer markte op of af gaan beweeg, d.w.s. die adviseur reken hy/sy weet beter as al die ander duisende hoogs-opgeleide analiste en beleggers wat hulle almal volgende gaan doen, alvorens hulle dit self weet.
  3. As die adviseur jou probeer vertel watter fonds (of fondse) gaan volgende jaar beter as die mark presteer en daarvolgens jou beleggings probeer bestuur.

Hy deel advies in die kategorieë “the good, the bad and the ugly� en meen hierdie tipe voorstellings val in die “ugly� kategorie. Jy kan goedkoper wegkom deur ’n “flip a coin� strategie en dit sommer self te doen, aldus Solin.

Skryf ’n goeie CV vir die nuwe jaar

Aan die begin van die jaar skryf mense, veral jong mense, CV’s om werk te kry. Ander hoop om hul nuwe jaar se voornemens uit te lewe en is dan ook op soek na daardie droomwerk.’n Vise-president van Google en hoof van hul personeel het so ’n paar punte uitgelig wat jou sal help met daardie CV:

  1. Maak seker daar is geen tikfoute nie – dít skep ’n uiters swak indruk. Mense wat gereeld hul CV’s opdateer of aanpas is gewoonlik die mense wat tikfoute laat insluip. Studies het gewys dat 58% van CV’s een of meer spelfoute het.
  2. Meeste mense se CV’s is te lank. Onthou ’n CV is daar om ’n onderhoud te kry of om jou op ’n kortlys te plaas. Die CV gaan jou nie die werk gee nie. Sy reël is basies een bladsy vir elke 10 jaar gewerk. Die skrywer Blaise Pascal se woorde “ek sou ’n korter brief geskryf het as ek meer tyd gehad het� is hier baie relevant.
  3. Die formaat moet eenvoudig en saaklik wees, behalwe as jy vir ’n grafiese kuns of rekenaarspeletjie-pos aansoek doen. Die CV moet maklik lees met gewone spasiëring en gewone teksformaat – swart ink op wit papier.
  4. Moet nooit iets vertroulik in jou CV plaas nie, veral nie as dit oor ’n vorige werknemer of akademiese instelling gaan nie. As jy iets vertroulik van ’n ander instelling verkondig, wat verhoed jou om dieselfde te doen met die instelling waar jy vir werk aansoek doen? As mense jou nie kan vertrou nie, gaan hulle nie vir jou werk gee nie.
  5. Praat altyd die waarhied, nie eens wit leuens gaan werk nie. As jy een vak kort vir jou graad, het jy mos nie die graad voltooi nie. Moet nie nou probeer voorgee jy het die kwalifikasie nie. Hierdie geld ook vir vorige werksondervinding waar mense voorgee hul was meer senior en/of het meer verdien as wat hulle werklik verdien het. Die wêreld is kleiner as wat jy dink en daar is meer inligting vrylik beskikbaar as wat mense besef.
  6. Maak seker dat jou dekbrief korrek geaddresseer is. Dit is ook belangrik dat jou CV vanaf ’n professionele e-posadres kom. Jou vriende dink dalk jou “sexy@gmail.com� of “yster@mweb.co.za� is baie snaaks, maar wees versigtig. Gebruik liewer ’n adres wat in ’n werkomgewing pas.

Nou na al hierdie – VAT DIE JAAR VOOR HY JOU VAT!