Beleggingsprestasie tot einde Januarie 2015

Beleggingsprestasie tot einde Januarie 2015

Veral die effektemark het baie sterk presteer die afgelope drie maande met ’n totale opbrengs van 7,35% soos markte die laer inflasie verwagtinge begin inprys en kans op ’n rentekoers verhoging begin negeer. Ek hou steeds by my waarskuwing dat beleggers nie die groei van die afgelope 12 maande, vyf jaar en 10 jaar in die afsienbare toekoms moet verwag nie. Markte is duurder en sterk winsgroei is tot ’n groot mate reeds in die pryse van aandele verdiskonteer.

Wat egter opvallend is as ek na die afgelope 10 jaar se prestasie kyk, is die uitprestasie van die JSE relatief tot internasionale markte. Indien jou geld in die JSE was die afgelope 10 jaar, het jy 18,20% per jaar verdien. Dit beteken elke R1 000 wat jy 10 jaar gelede in die mark belê het, nou R5 300 werd is. As jy egter jou geld in die wêreldmarkte belê het (ek gebruik die MSCI Wêreldindeks), was die opbrengs 6,66% in VSA dollar terme wat gelyk is aan 14,04% in rand terme. In die hierdie geval het die R1 000 van 10 jaar gelede gegroei na R3 700 vandag.

Die afgelope 10 jaar het die JSE (in rand en in dollar) beter gedoen as die wêreldindekse. Hierdie was ten spyte van Pres Zuma se vrot leierskap, Eskom se probleme in 2008 en vandag, die swakker rand en al die korrupsie en wanadministrasie. Die rede is onder andere dat die JSE bestaan uit wêreldklas maatskappye met wêreldklas bestuur, wat besonder aanpasbaar is en vir wie inkomste reeds beduidend buite SA verdien word. Beteken hierdie jy hoef nie direk in die buiteland te belê nie? Nee, maar wees gerus dat jou plaaslike beleggings reeds ’n mate van internasionale verskansing geniet.

 

Wat moet jy doen as jy 10 jaar het voor aftrede?

Soos wat jy nader aan aftrede kom, raak die berekening en beplanning al hoe belangriker en dit raak krities om die regte dinge in plek te kry terwyl jy nog inkomste verdien. In hierdie artikel gebruik ek punte uit ’n artikel wat onlangs in TIME verskyn het, tesame met ’n paar Suid-Afrikaanse aanpassings.

  1. Maak seker jy spaar en belê tans genoeg. Die beginsel waarop so ’n berekening gebaseer moet word, is om te weet wat jy graag wil verdien as jy afgetree is. Jy moet dus weet wat die kapitale bedrag is wat nodig is om hierdie inkomste te verdien. Onthou, mense word baie ouer. Dit beteken jou kapitaal moet baie langer vir jou werk. Wees bedag daarop dat jou grootste langtermyn vyand inflasie is en nie markskommelinge of korttermyn prysbewegings nie.
  2. As jy dit kan verhelp, beplan jou aftrede op so ’n manier dat die huishouding se inkomste vanuit jou professie/beroep nie onmiddellik na nul daal nie. Dit is gewoonlik ’n groot skok op die kontantvloei. Hiermee bedoel die skrywer dat jy moet probeer beplan dat jy en jou vrou nie in dieselfde jaar aftree nie. ’n Ander opsie sou wees dat jy vir ’n periode kontrak- en/of konsultasiewerk doen net om aan die finansiële effek van ’n verminderde inkomste gewoond te raak.
  3. Moet nie by aftrede eenvoudig alle groeibates verkoop nie. Hier praat ek spesifiek van beleggings in aandele en kommersiële eiendom. Mense word baie ouer en daarom moet jou beleggings aan jou inkomste behoeftes vir 20 of 30 jaar lank kan voorsien. In baie gevalle is hierdie inkomste wat jy nou aan jouself moet betaal uit jou beleggings meer as haalbaar uit die bedrag wat jy gespaar het.
  4. Werk aggressief daaraan om enige skuld en daarmee saam rentekoste af te los. Ons sien gereeld mense wat ’n gemaklike aftrede aan rente weg betaal in die laaste dekade voor aftrede. Net soos wat saamgestelde groei in jou guns werk, negeer die betalings van rente die kans dat jou geld vir jou werk.
  5. Maak vriende met die jonger mense by die werk. Dit is hulle wat gaan besluit wanneer en op watter basis jy vervang gaan word. Die jongeres gaan die besluitnemers wees oor 10 jaar en, indien jy bietjie langer wil aanbly of deeltydse konsultasie-inkomste wil verdien, is hierdie die ouens wat daardie besluite oor jou gaan maak.

Onthou om voor 27 Februarie 2015 bydraes tot uittree-annuïteite te maak om te kwalifiseer vir die belastingvoordeel. Bydraes is aftrekbaar tot 15% van jou belasbare inkomste. Hierdie aftrekking is veral voordelig vir professionele mense, entrepreneurs en persone wat groot somme geld periodiek verdien. Raadpleeg jou finansiële adviseur of stuur ’n e-pos aan my as jy onseker is oor die werking hiervan.

Die Amerikaanse reguleerder, die SEC (US Securities Exchange Commission), het onlangs ’n lys vereistes en raad saamgestel waaraan elke belegging en beleggingsaanbeveling moet voldoen. Hierdie is van die punte wat net so van toepassing is op SA as die VSA.

  1. Gaan die agtergrond van die persoon wat die advies gee volledig na, dit is baie maklik en verniet.
  2. ’n Belofte van hoë opbrengste, sonder dat die baie hoë risiko’s daarmee saam uitgelig word, is gewoonlik ’n teken van bedrog.
  3. Om skuld af te betaal is in baie gevalle jou beste belegging.
  4. Maak seker jy verstaan en weet wat die totale fooie gekoppel aan die belegging is.
  5. Diversifikasie tussen beleggings en bateklasse verminder risiko.
  6. Aktiewe verhandeling verlaag opbrengste.
  7. Hoe meer oortuigend die adviseur, hoe groter is die kans dat hy/sy ’n kansvatter is.
  8. Pasop vir wenke en/of inligting van sosiale media en ander onbevestigde bronne.

Optimiste is gesonder as pessimiste

Daar het onlangs ’n artikel in die Guardian koerant in Engeland verskyn na aanleiding van ’n 11-jaar lange studie aan die Universiteit van Illinois in die VSA wat bevind het dat pessimiste gewoonlik in ’n baie swakker gesondheidstoestand is as optimiste. Die glas-half-leeg mense se kans om aan ’n hartaanval te sterf, is beduidend groter as dié van die half-vol-glas ouens.

Wat my getref het en wat die outeur van die artikel, Stuart Heritage uitlig, is dat dit die optimiste is wat ’n kans sal vat. Hulle sal gaan bungee-jump, daardie vreemde nuwe kos eet, diepsee duik of vakansie hou by een of ander eksotiese plek, terwyl die pessimiste gewoonlik die ouens is wat die gevare en risiko’s daarvan uitwys en sulke optrede ten alle koste vermy.

Die vraag is nou – hoe dan dat optimiste langer lewe en meer gesond is as hulle dan meer riskant te kere gaan? Ek dink (en dit is nie in die artikel of navorsing nie), dat die half-vol ouens gewoonlik gelukkiger is en die lewe beduidend meer geniet. Daarom leef hulle langer en is hulle meer gesond.

Nou as jy bang of pessimisties is, kyk gerus na hierdie video: “There is no problem so bad that you can’t make it worse.� Klik hier

Bill en Melinda Gates se jaarlikse nuusbrief is in Februarie gepubliseer. Ek beskou dit as een van die moet-lees dokumente van die jaar. Hier is ’n skakel na die nuusbrief: Klik hier

Ek het net ná die verskyning van die nuusbrief op Dagbreek daaroor gesels. Die Bill en Melinda Gates gedeelte van die gesprek is vanaf die vyfde tot die negende minuut in die insetsel hier.