Warren Buffett se jaarlikse nuusbrief

Warren Buffett se jaarlikse nuusbrief

Oor die naweek het Warren Buffett se jaarlikse nuusbrief aan beleggers verskyn. Ek beskou hierdie nuusbrief as ’n moet lees, veral wat die beginsels en lesse daarin vervat, betref.

As agtergrond, staan die volgende sin in die brief nogal uit: “Through dumb luck, Charlie [sy vennoot] and I were born in the United States and we are forever grateful for the staggering advantages this accident of birth had given us�. Om hul fenomenale beleggingsukses in perspektief te plaas: Indien jy $100 in 1965 in Berkshire Hathaway sou belê het, sou dit vandag sowat $1,8m werd wees. Indien jy hierdie selfde $100 in die S&P 500 belê het, sou dit vandag sowat $11,196 werd wees. Berkshire Hathaway is tans die derde grootste genoteerde maatskappy in die VSA (na Apple en Exxon) en besit tans nege maatskappye binne die groep wat deel van die S&P 500 sou gewees het indien dié maatskappye apart genoteer was.

Belangrikste punte uit Buffett se nuusbrief

  1. “Aandele is oor die korttermyn baie meer wisselvallig as rente deposito’s. Oor die langtermyn is rente deposito’s baie meer riskant as ’n gediversifiseerde aandele portefeulje wat die belegger teen lae koste vir die langtermyn besit. Die vertrekpunt, wat in sakeskole geleer word, dat markbewegings dieselfde as risiko is, is eenvoudig verkeerd.� (Hy gebruik eintlik die woorde “dead wrong�). Buffett gaan voort deur te ondersteep dat rente wel oor die periode van een dag, een week of een jaar die opbrengs van aandele uitpresteer, maar dat dit nie die geval is in die langtermyn nie.As ek na die Suid-Afrikaanse ervaring oor die afgelope 115 jaar kyk, het aandele vir jou 7,4% per jaar bo inflasie gegee, terwyl kontant aan jou 1% bo inflasie per jaar gegee het. Oor die afgelope 10 jaar, het aandele jou 18,2% (voor inflasie) per jaar gegee terwyl kontant aan jou 7,2% (voor inflasie) gelewer het. Gedurende die afgelope 10 jaar was die inflasiekoers gemiddeld 6,05% wat jy van die 10 jaar syfers aftrek om te bepaal of jy vooruit geboer het. Die verdere probleem is dat rente gewoonlik onderhewig is aan belasting en, op ’n na-belaste basis, nie daarin slaag om met inflasie tred te hou nie!
  2. “Dit is voorspelbaar dat mense van tyd tot tyd paniekbevange gaan wees, dit is egter onmoontlik om te voorspel wanneer dit gaan gebeur. Dit is altyd moeilik om te voorspel wat môre gaan gebeur. Die dag voor 11 September 2001 het nie anders as enige ander dag gevoel nie. Omdat jy nie weet wat môre gaan gebeur nie, moet jy voorbereid wees op wisselvalligheid en markbewegings. In baie gevalle maak beleggers, deur hul eie gedrag, beleggings in aandele riskant – en baie mense doen dit.�Ons sien gereeld dat mense emosionele en sinnelose besluite maak indien markte skielik op of af beweeg. In meeste gevalle is dit juis hierdie besluite wat maak dat hulle uiteindelik die risiko in hul eie beleggings verhoog. Die advies hier is om op ’n langtermyn strategie te besluit en om dan gedissiplineerd by hierdie strategie te hou. So ’n strategie moet ook voorsiening maak vir tye wanneer die mark wisselvallig is en ook tye wanneer daar paniek heers.
  3. “Aktiewe verhandeling, pogings om te probeer raai wanneer die mark gaan opgaan of afgaan, onnodige fooie en kostes en om te belê met geleende geld is almal faktore wat langtermyn opbrengste verwoes. Kenners wat vooruitskattings maak, maak jou ore vol geraas, maar nooit jou beursie vol geld nie.�Daar is ’n paar gesonde kernbeginsels wat oor die jare heen vir beleggers gewerk het. Hierdie beginsels is gewoonlik eenvoudig en relatief konserwatief. In meeste gevalle, indien beleggers by hierdie beginsels hou en nie onnodige riskante strategieë volg nie, behoort meeste beleggers hul doelwitte te bereik.
  4. “Moenie ’n billike besigheid teen ’n goeie prys koop nie, koop ’n goeie besigheid teen ’n billike prys�. Hiermee saam beklemtoon Warren Buffet ook dat hy nie in besighede belê wat hy nie verstaan nie. Hy sluit veral IT besighede hier in. Buffett is ook gemaklik om eerder ’n beduidende minderheidsbelang in ’n uitstekende besigheid te besit as om volle beheer oor ’n so-so besigheid te neem.Aan die begin was Buffett baie sterk daarop ingestel om slegs beleggings te maak as hy dit teen ’n baie goedkoop prys kon kry. Hy verwys hierna as sy “cigar-butt strategy� waar hy die besigheid spotgoedkoop kry en dan ’n paar verniet trekke uit die sigaar kry. Hy meen hierdie was een van hul belangrikste strategie veranderinge in die 1960’s wat grootliks tot sy sukses bygedra het. Oor besighede wat hy nie verstaan nie, is daar drie hopies op sy lessenaar: Sy in-boks, sy uit-boks en die “te moeilik� boks wat verreweg die grootste hopie is. Hy maak nie ’n belegging as hy dit nie verstaan nie en stap baie maklik verby ’n geleentheid as hy dit nie ten volle verstaan nie. Wat sy belang in ’n besigheid betref, meen hy dit is beter om ’n gedeelte van ’n diamant te besit as ’n hele gewone stuk klip.
  5. “Kontant vir ’n besigheid is soos suurstof vir ’n mens. Jy besef nie elke dag hoe belangrik dit is nie, totdat dit nie meer daar is nie�.Besighede wat nie kontant genereer nie, of dit nou ’n belang in ‘n genoteerde besigheid of privaatbesigheid is, plaas of huurperseel is – indien die entiteit nie kontant genereer nie is die skrif aan die muur. Sterk kontantvloei is dan ook gewoonlik ’n teken van ’n goed bestuurde en gesonde besigheid.Buffett skram ook nie weg van foute nie en beklemtoon dat hy al baie foute gemaak het en dat hy steeds baie foute gaan maak. Hy meen egter dat een van sy grootste foute van so ’n omvang is dat hierdie fout in die Guiness Book of World Records opgeteken moet word. In 1993 koop hy Dexter Shoe vir $433 miljoen. Dexter het heeltemal ondergegaan en die belegging is afgeskryf na $0 toe. Hy het die eienaars van Dexter betaal met Berkshire aandele – daardie Berkshire Hathaway aandele is vandag $5,7 miljard werd.
  6. Buffett verwys regdeur die brief na die foute en verkeerde besluite wat hulle gemaak het en steeds maak. Tydens die 2014 jaarvergadering het hy die beginsel sterk beklemtoon dat dit belangrik is om foute onmiddellik aan te spreek as ’n manier om die uiteindelike impak van die foute te beperk. Die les is verder dat indien jy aandele uitreik om besighede te koop, die waarde van die aandele wat jy uitreik nooit hoër moet wees as die waarde van die besigheid wat jy koop nie.

Hier is ’n skakel na die volledige nuusbrief (lees veral bladsy 24 tot die einde met beide Warren en sy vennoot Charlie Munger se briewe aan aandeelhouers): Klik hier

Dr Simon Marais

Een van Suid-Afrika se grootse beleggingskundiges en mees aangename mense in die internasionale finansiële markte is verlede week oorlede: Dr Simon Marais. Simon het ’n doktorsgraad in fisika gehad, maar hy het sy naam in die beleggingswêreld gemaak en was tot onlangs nog die voorsitter van Allan Gray.

Hier is ’n skakel, vol beleggingsadvies, na ’n onderhoud wat ek laat verlede jaar met Simon gevoer het. As jy jouself en jou familie ’n paar lewenslesse oor beleggings wil leer, kyk gerus hierna: