Vier groot toekomstige veranderlikes

Beleggingsprestasie tot einde Mei 2015

As ek terugkyk na Mei 2015 was dit nie ’n goeie maand vir beleggers nie. Die JSE het met sowat 4% gedaal gedurende die maand, terwyl ’n gebalanseerde portefeulje met tussen 2.5% en 3.0% gedaal het.

Amper alle bateklasse se opbrengs was negatief in Mei. As mens egter kyk na die prestasie sedert die begin van hierdie jaar toon beleggers se portefeuljes steeds positiewe groei, alhoewel beleggers nie moet verwag dat die wisselvalligheid agter die rug is nie. In hierdie nuusbrief waarsku ek reeds die afgelope 18 maande dat beleggers hul verwagtinge moet temper wat groei betref. Ons begin nou hierdie laer groei ervaar. Die afgelope 12 maande het die JSE Algehele Indeks vir jou ’n totale opbrengs van 8,5% gelewer. Hierdie is beduidend laer as die afgelope vyf jaar se groei van 17.5% per jaar en die afgelope 10 jaar se 17.6% groei per jaar. Ek meen dat hierdie laer groei nader is aan wat ons in die volgende jaar of twee kan verwag.

Beleggers het basies toekomstige groei gaan leen en sal van hierdie groei een of ander tyd moet teruggee. Dit is presies wat ons nou sien. Die langtermyn gemiddelde groei van die JSE (sedert 1900) was sowat 12.5% per jaar. Indien jy dus ’n dekade van 17.5% groei geniet het, is dit net logies dat jy iewers groei van nader aan die 8.5% gaan kry.

As ons die Amerikaanse S&P indeks van die 500 grootste maatskappye neem, daal die mark bykans elke jaar een of ander tyd met meer as 5%. Sedert 1960 het dit nog net in drie jare (1964, 1993 en 1995) gebeur dat die mark nie iewers in die jaar 5% verloor het nie, aldus Deutsche Bank. Deutsche Bank gaan voort en wys daarop dat die mark gemiddeld elke 357 handelsdae (sowat elke 18 maande) met meer as 10% daal.

Ons verhandel nou reeds meer as drie en ’n half jaar sonder so ’n 10% daling. Dit is die derde langste periode sedert 1960 sonder so ’n 10% daling, aldus Deutsche Bank. Voeg hierby dat die Amerikaanse markte tans aan die duur kant is (sowat 12% bo die langtermyn gemiddelde waardasievlakke) en dat van hierdie stygings deels is a.g.v. goedkoop geld in die wêreld, dan kan mens verwag dat ons nie ver van nog wisselvalligheid is nie.

Wat beteken dit vir beleggers?

Baie min, sou ek sê, behalwe miskien:

  1. Selfs teen laer verwagte groei klop aandele (as ’n groei-bateklas) steeds die ander bateklasse as dit kom by groei bo inflasie, alhoewel beleggers hul verwagtinge moet temper en besef dat hierdie groei nie reglynig gaan wees nie.
  2. As jy nuwe geld wil belê, doen dit oor ’n periode van tyd (faseer dit maandeliks in oor 12 maande) sodat enige dalings jou die geleentheid bied om teen laer vlakke in te koop. Onthou, dit is belangriker om te begin en om te belê as om te probeer raai wanneer “die tyd� reg is!
  3. As jy geld wil onttrek uit die mark, gaan gerus voort en moet nie onnodig wag vir hoër waardasievlakke nie.

Beleggings 1

Beleggings 2

 

SmartRand

Besoek gerus SmartRand by smartrand.com vir aanlyn beleggingadvies. SmartRand is ’n aanlyn beleggingsadviesdiens wat advies teen die laagste moontlike koste bied vir enkel-doelwit beleggings soos spaar vir aftrede of spaar vir ’n kind se universiteitsgelde, ’n nuwe motor of selfs ’n oorsese vakansie.

Die advies soos verskaf deur SmartRand word gedoen in samewerking met Theo Vorster en Warren Ingram van Galileo Capital en in terme van Galileo Capital se FSP lisensie (no: 21239) by die RFD.

Vier groot toekomstige veranderlikes

As jy graag voorspellings maak en glo jy kry dit beter reg as die res van die mark (dit is nou die ander sewe miljard idiote wat die planeet met jou deel), is hierdie die vier groot veranderlikes wat die toekoms gaan bepaal (volgens ’n onlangse McKinsey & Co verslag):

1. Verstedeliking in opkomende lande

In die jaar 2000 was 95% van die Fortune 500 maatskappye (die grootste 500 maatskappye in die wêreld) gebaseer in die eerste wêreld, hoofsaaklik in Noord-Amerika en Europa. Teen 2025 (wanneer die Chinese ekonomie groter as die VSA se ekonomie kan wees), gaan daar meer groot maatskappye (met ’n inkomste van meer as ’n $1 miljard per jaar) in opkomende lande gebaseer wees as in Europa en die VSA saam. Die wêreld is besig om te verstedelik teen sowat 65 miljoen mense per jaar (dit kom neer op agt nuwe stede so groot soos London per jaar). Dit beteken dat teen 2025 meer as die helfte van die wêreld se ekonomiese aktiwiteit in die 440 grootste stede in opkomende lande gegenereer gaan word. Dit is oor slegs 10 jaar.

2. Versnelde tegnologiese verandering

Dit het 50 jaar geneem voordat die helfte van die Amerikaanse bevolking aan ’n telefoon gekoppel was. Dit het die radio 38 jaar geneem om 50 miljoen luisteraars te bereik, terwyl die Chinese gespreksplatform WeChat binne enkele jare reeds meer as 300 miljoen gebruikers het. Sowat vyf jaar nadat Apple die iPhone bekend gestel het was daar reeds meer as 1.2 miljoen toepassings (apps soos ons dit ken), wat 75 miljard keer afgelaai is. Minder as 20 jaar gelede het slegs 3% van die bevolking op aarde mobiele kommunikasie gehad. Vandag is daar meer SIM-kaarte as mense op aarde (meer as 60% van die mense het selfone en meer as 30% mobiele toegang tot die internet). Skielik verander maatskappye soos Uber, Alibaba en WhatsApp die wêreld om ons.

3. Nuwe ou mense

Meer as 60% van die wêreldbevolking woon tans in lande waar die bevolkingsgroei onder 2.1% is. Dit is die persentasie groei wat nodig is om die bevolking konstant te hou met inagname van natuurlike afsterwe. In Duitsland is die verwagting (gebaseer op mense reeds gebore wat in 2060 gaan aftree), dat die huidige werkende populasie van 54 miljoen na 36 miljoen gaan daal in die volgende 45 jaar. Die vraag is hoe dit die kapitaalbasis en ekonomiese aktiwiteit van Duitsland en Europa gaan raak. Voeg hierby dat mense ouer word en ’n meer aktiewe lewe lei tot ’n hoër ouderdom, dan gaan hierdie ouer, meer aktiewe bevolking ’n groot rol (moet en wil) speel in toekomstige ekonomiese aktiwiteite.

4. Interkonnektiwiteit

Almal gaan met almal handel dryf. Die tyd waarin wêreldhandel grootliks tussen die VSA en Europa plaasgevind het, is verby. Om ’n voorbeeld te noem: China se handel met Afrika het van $9 miljard in 2000 tot $211 miljard in 2012 gegroei. Meer as ’n miljard mense het in 2010 oor landsgrense beweeg, meer as vyf keer die hoeveelheid mense as in 1980. Hierdie beweging van goedere en mense gaan beteken dat kontak en handel tussen mense, lande en maatskappye baie meer geïntegreerd gaan word.

In die Suid-Afrikaanse konteks kan ons die swart middelklas, wat besig is om baie skerp te groei, byvoeg. In 1994 was daar sowat 350 000 swart mense wat deel van die middelklas was (het 10% van die middelklas uitgemaak). Tans is daar na raming meer as drie miljoen swart mense deel van die middelklas, dus is meer as 40% van die totale Suid-Afrikaanse middelklas swart. Meeste van hierdie middelklasmense bly in die groter stede (net minder as 90%), met dieselfde aspirasies as enige ander stedeling. Soos ons bevolking gaan verstedelik van die huidige 64% na ’n verwagte 70% van die bevolking in die volgende dekades, sal hierdie demografiese verskynsel die ekonomiese en politieke landskap vorm in die volgende dekade of twee en nie die ou in die “Rondalia replika� ampswoning nie.

Ons is baie keer pessimisties oor waarheen die wêreld op pad is en hoe die wêreld agteruitgaan. In die jaar 1800 was daar geen land waar die lewensverwagting meer as 40 jaar was nie, vandag is daar geen land waar die lewensverwagting onder 40 jaar is nie. In Suid-Afrika was die lewensverwagting in 1800 sowat 34 jaar, vandag is dit nader aan 58 jaar, weliswaar steeds ver onder die 80 plus in onder andere Japan, Australië en Spanje. Hierdie is gedeeltelik te danke aan suksesvolle inentingsprogramme, antibiotika en beter voeding.

Met die huidige droogte in Kalifornië (studies reken die ergste in 1 200 jaar), waar groot damme dolleeg is, bote op droë grond staan en magtige riviere so klein is dat jy daaroor kan spring, kyk mense opnuut na die gebruik van water. ’n Interessante artikel in die New York Times het die volgende vraag gestel:

Watter van die volgende gebruik die meeste water:

  • ’n 10 minute stort?
  • ’n Handvol neute?
  • Een bondel wasgoed in ’n wasmasjien?
  • ’n Hamburger frikkadel (of “pattyâ€� in straat-Afrikaans)?

Die antwoord is nogal onverwags. Die 10 minute stort gebruik so 90 liter water, die handvol neute ongeveer 40 liter, die bondel wasgoed bykans 130 liter, maar om ’n 100-gram hamburger frikkadel (“patty�) te produseer, word amper 1 500 liter water gebruik. Hierdie is spesifiek omrede proteïene (in hierdie geval die bees), water direk drink en die graan wat die bees eet ook water nodig het. Om hierdie verder te neem, een eier gebruik amper 200 liter water terwyl een liter melk sowat 880 liter water nodig het.

Neem nou hierdie syfers en voeg dit by die verstedeliking en groeiende middelklas-syfers hierbo genoem, dan beteken dit eenvoudig dat water en die kwaliteit van water al hoe belangriker gaan word – om nie eens te praat van die rol van die boer nie.

Hier is ’n skakel na die artikel waarna ek verwys.

Gee jou finansiële welvaart ’n hupstoot

Beleggingsprestasie tot einde April 2015

 

Belegging Mei 1

Belegging Mei 2

Vier kits-stappe om jou finansiële welvaart ’n hupstoot te gee

Hoewel my ervaring van kitsdiëte maar redelik beroerd is, dink ek tog daar is ’n paar kits-stappe wat onmiddellik ’n verskil aan jou finansiële posisie kan maak. Hierdie vier punte gaan jou vyf minute neem, maar kan ’n groot bydrae tot jou welvaart maak.

  1. Teken ’n debietorder om elke maand te spaar – al is dit R500 pm. Begin met die proses en sorg dat hierdie geld uit die begroting verdwyn alvorens jy tyd het om dit te uit te gee.
  2. Kontak jou bank en voeg ’n ekstra bedrag by jou maandelikse afbetaling aan jou huis. Weer eens, die grootte van die bedrag is nie die deurslaggewende faktor nie, dit gaan oor die implementering daarvan.
  3. Bereken ’n bedrag (bv. 5% van jou maandelikse inkomste of ’n vaste bedrag soos R2 500) en besluit dat alle uitgawes bo hierdie bedrag eers moet oorstaan vir ’n week alvorens jy dit uitgee. Hierdie dissipline gaan help om jou emosionele en impulsiewe uitgawes te beperk.
  4. Stel vir jouself ’n 12 of 18 maande beleggingsdoelwit. Dit hoef nie baie groot te wees nie, net dat jy in die volgende 12 of 18 maande (kort genoeg dat dit iets is om na uit te sien, maar lank genoeg dat jy tyd het om realisties daarby uit te kom) by hierdie bedrag kan uitkom.

’n Vraag wat beleggers deesdae deurlopend kwel, is wat gaan gebeur as die graderingsagentskappe Suid-Afrika afgradeer en is ek verskans daarteen? Kom ons begin deur te kyk na Suid-Afrika se gradering en in watter geselskap ons is. Die tabel hieronder is ’n vereenvoudiging van in watter geselskap ons ons tans bevind wat ander opkomende markte betref (ek het die drie groot graderings agentskappe se gradering vereenvoudig en probeer normaliseer).

Beleggingsgraad Nie- Beleggingsgraad (rommel)
China AA Rusland
Chili AA Hongarye
Suid-Korea AA
Botswana A Spekulatief (hou jou broek vas)
Pole A Nigerië
Maleisië A Kenia
Mexiko BBB
Peru BBB Hoogs spekulatief (knyp toe jou oë)
Thailand BBB Venezuela
Colombia BBB Egipte
Suid-Afrika BBB Argentinië
Filippyne BBB –
Brasilië BBB –
Indië BBB –

Die vraag is wat gaan gebeur as Suid-Afrika afgradeer word, verby lande soos die Filippyne, Brasilië en Indië en in die kategorie saam met lande soos Rusland, Hongarye gesien word? In sulke omstandighede gaan die rand onmiddellik onder verdere druk kom soos buitelandse beleggers se mandate bepaal wanneer hulle geld uit die land onttrek, inflasie en rentekoerse gaan opwaarts beweeg en Suid- Afrika se toegang tot buitelandse kapitaal gaan erg ingekort word.

Hoe verskans jy jouself teen so ’n terugslag?

  • Alle gebalanseerde portefeulje-beleggers het reeds beduidende beskerming hierteen. Die JSE se algehele indeks (gemeet aan die Alsi 40) se blootstelling is reeds tussen 60% en 65% in die buiteland, afhangende van wat die berekeningsmetode is wat jy kies om te gebruik. Die rede is dat ’n beduidende deel van ons groter maatskappye se winste en ook hul waarde reeds in die res van die wêreld bepaal word. Dink aan Richemont, Naspers, SAB Miller, BHP Billiton, Sasol, BAT, Steinhoff, om net ’n paar te noem.
  • Voeg nou direkte blootstelling hierby waar fondse en fondsbestuurders hul allokasie ten volle of gedeeltelik gebruik om blootstelling in die res van die wêreld te kry, dan kan mens maklik nog tussen 10% by hierdie 60% en 65% bytel.
  • As jy nou werklik jou geld wil uitskuif, is daar weggesteek in die begroting (op bladsy 154 van een van die annekse) die vergunning dat elke belastingbetaler nou R10m per jaar in die buiteland mag belê (toevallig iets waarvoor jy tussen 1961 en 1997 jare in die tronk sou deurbring saam met ’n menigte ander wat valutabeheer regulasies probeer omseil het om darem ’n ou geldjie uit die land te neem).

Die vertrekpunt is, niemand weet waarheen die rand volgende gaan en wanneer dit gaan gebeur nie. Fokus eerder daarop dat jou portefeulje reg gestruktureer is om vir jou die vereiste groei teen jou eie risikovlakke oor die langtermyn te kan gee.

’n Mens vergeet dat markte op die korttermyn (en dit kan selfs ’n paar jare so bly) irrasioneel en emosioneel kan beweeg. Een van die grootste sulke borrels het in Nederland in die periode van 1610 tot 1637 gebeur met die pryse van Tulpe. Op die toppunt van hierdie Tulpemania sou jy ’n Semper Augustus Tulpbol kon koop vir die ekwivalent van wat jy vandag vir ʼn nuwe Porsche sal betaal.

As jy terugkyk lyk hierdie belaglik – miskien net so belaglik soos rentekoerse wat in Duitsland en Switserland negatief is (jy betaal rente om geld in die bank te hou), of Mexiko wat geld leen op wêreldmarkte en eers die geld oor Mexikon 100 jaar hoef terug te betaal?

SmartRand

Besoek gerus SmartRand by smartrand.com vir aanlyn beleggingadvies. SmartRand is ’n nuwe aanlyn beleggingsadviesdiens wat advies teen die laagste moontlike koste bied vir enkel-doelwit beleggings soos spaar vir aftrede of spaar vir ’n kind se universiteitsgelde of ’n oorsese vakansie.

Die advies soos veskaf deur SmartRand word gedoen in samewerking met Theo Vorster en Warren Ingram van Galileo Capital en in terme van Galileo Capital se FSP lisensie (no: 21239) by die RFD.

 

 

Beleggingsprestasie tot einde Maart 2015

Beleggingsprestasie tot einde Maart 2015

Soos verwag het die groei in markte begin afplat. Die afgelope 12 maande het die JSE Algehele Indeks vir die belegger ’n opbrengs van 12,53% gelewer – dit is toevallig in lyn met die langtermyn gemiddelde groei en steeds beduidend bo die huidige inflasiekoers van 3,9%. Ek bly egter van mening dat toekomstige opbrengste laer en meer wisselvallig as dié van die afgelope vyf en 10 jaar gaan wees, alhoewel ek steeds meen dat beleggers die nodige blootstelling aan groeibates (aandele en kommersiële eiendom) behoort te hê.

 

 

Hoe werk die belastingsvrye-spaarplan?

“Tax free savings account� (TSA)

Daar is ’n nuwe beleggingsvoertuig, genaamd die R30 000 belastingvrye-spaarplan (“tax free savings account� of TSA) op 1 Maart 2015 bekendgestel. Ons het ’n paar weke geneem om deur al die inligting te werk om sodoende ’n behoorlike oorsig van dié beleggingsopsie te gee. Baie van ons kliënte wil graag weet in watter bateklasse hulle moet belê binne die belastingvrye-spaarplan. In hierdie maand se nuusbrief gee ons ’n paar wenke.

Agtergrond

Belastingvrye-spaarplanne is besparingsprodukte waarop geen inkomstebelasting, kapitaalwinsbelasting of dividendterughoudingsbelasting gehef word nie. Meeste effekte trusts, ETF’s, spaarrekeninge, vaste deposito’s en staatseffekte voldoen aan die kriteria om geklassifiseer te word as ’n belastingvrye-spaarplan. Hierdie is dus nie nuwe produkte nie. Slegs die wyse waarop die SAID die produkte hanteer, verander. Die produkverskaffers word derhalwe verplig om afsonderlik verslag te doen oor hierdie beleggings om te verseker dat geen belasting daarop gehef word nie.

Jy mag R30 000 per jaar in ’n belastingvrye-spaarplan belê, tot ’n maksimum van R500 000 in totaal gedurende jou leeftyd. Indien jy hierdie maksimum bedrae oorskry, sal die SAID 40% belasting op die oortollige bydra hef. Daarom moet beleggers nie meer as die toegelate R30 000 per jaar in hierdie rekenings belê nie. Indien ’n belegger geld uit die belastingvrye-spaarplan onttrek, sal die belegger die waarde van daardie onttrekking uit sy maksimum limiet oor sy leeftyd verloor. Dit is dus wys dat beleggers die belastingvrye-spaarplan hoofsaaklik vir langtermyn beleggings gebruik, byvoorbeeld vir ’n termyn van 20 jaar en langer. Beleggers word nie forseer om hul geld in die belastingvrye-spaarplan te hou nie en kan enige tyd ontrekkings maak sonder dat enige belastings of boetes gehef word.

Potensiële belastingbesparing binne die belastingvrye-spaarplan

Volgens navorsing deur die aktuariële firma Simeka, kan ’n belegger wat tans op die top belastingskaal is, R110 000 oor 20 jaar spaar deur in die belastingvrye-spaarplan te belê, teenoor ’n belegging in ’n effektetrust. Dit is omdat die belegger in terme van inkomstebelasting, kapitaalwinsbelasting en dividendbelasting voordeel trek uit ’n belegging in die belastingvrye-spaarplan. Hierdie besparings sal egter nie van toepassing wees in die geval van beleggings in gewone effektetrusts nie. Simeka se navorsing beklemtoon verder die feit dat aftreefondse steeds die mees belastingeffektiewe beleggings is. Die belegger, soos hierbo beskryf, sou R306 000 meer gespaar het deur in ’n aftreefonds te belê (na belasting) in vergelyking met ’n belastingvrye-spaarplan en R416 000 meer as in ’n normale effektetrust of aandeleportefeulje.

Wanneer gebruik ’n mens die belastingvrye-spaarplan?

Wanneer jy jou langtermyn spaardoelwitte prioritiseer, stel ons die volgende voor

  1. Betaal eers alle korttermyn skuld (kredietkaarte, persoonlike lenings, of duur motorskuld) af.
  2. Bou ’n noodfonds op (vir tussen drie en ses maande se uitgawes) en maak seker dat die noodfonds nie binne die belastingvrye-spaarplan opgebou word nie.
  3. Maak ten volle gebruik van die aftreefondsbydrae se aftrekking van 15% van belasbare inkomste.
  4. Belê daarna R30 000 per jaar in die belastingvrye-spaarplan.
  5. Doen dan ook normale diskresionêre besparings (aandele, effektetrusts en ETF’s).

Ons glo dat elke jong persoon die belastingvoordeel van die belastingvrye-spaarplan moet aangryp aangesien dit meer as 16 jaar sal neem om die leeftyd se maksimum bydrae van R500 000, teen R30 000 per jaar, te bereik. Enige ouer of grootouer, wat vir hul kind of kleinkind wil begin belê, kan ook gebruik maak van hierdie beleggingsvoertuig. Indien jy dit kan bekostig om R30 000 per jaar vanaf hul geboorte te belê, kan die rekening al ’n paar miljoen rand sterk wees teen die tyd dat hulle 20 jaar oud word. Hierdie spaarplan sal vir hulle ’n wonderlike belastingvrye hupstoot in die lewe gee. Indien ’n ouer of grootouer in ’n belastingvrye-spaarplan vir hul kind/kleinkind belê en die kind/kleinkind gebruik die kontant, sal hulle nie ’n addisionele belastingvrye-spaarplan kan begin nie, aangesien enige onttrekkings nie hergebruik kan word nie.

Beleggers wat binne die hoër inkomstebelastingskaal val, kan ook voordeel trek deur van die belastingvrye-spaarplan gebruik te maak weens die belastingbesparing. Die voordeel daarvan om kapitaal te los om belastingvry te groei, kan nie geïgnoreer word slegs omdat die belêbare bedrae redelik klein is nie.

Indien jy ’n belegger is wat reeds ouer in jare is of ’n belegger is wat vir ’n kort periode wil belê, sal die belastingvoordele baie minder wees en moet ander opsies eerder vooraf met jou adviseur bespreek word voor enige besluite rakende die belegging geneem word.

SmartRand

Besoek gerus SmartRand by smartrand.com vir ’n moontlike oplossing. SmartRand is ’n nuwe aanlyn beleggingsadviesdiens wat advies teen die laagste moontlike koste bied vir enkel doelwit beleggings soos spaar vir aftrede of spaar vir ’n kind se universiteitsgelde.

Die advies soos veskaf deur SmartRand word gedoen in samewerking met Theo Vorster en Warren Ingram van Galileo Capital en in terme van Galileo Capital se FSP lisensie (no: 21239) by die RFD.

Verdien sportmense die meeste?

Met die komende boksgeveg tussen Floyd Mayweather en Manny Pacquiao word dit algemeen aanvaar dat hierdie ’n sportgebeurtenis is waar die deelnemers vir die grootste prysgeld gaan kompeteer. Die bedrag wat genoem word, is sowat $400 miljoen, wat gelyk is aan sowat R5 miljard!

As jy na die lys kyk van die hoogste verdieners in 2015 (volgens Forbes), lyk die top vyf soos volg:

  1. Floyd Mayweather Boks VSA $105m
  2. Cristiano Ronaldo Sokker Portugal $80m
  3. LeBron James Basketbal VSA $72.3m
  4. Lionel Messi Sokker Argentinië $64.7m
  5. Kobe Bryant Basketbal VSA $61.5m

As jy egter kyk na lyste van welvarende atlete, waar jy die welvaart oor hul loopbane in ag neem, is die prentjie anders (daar is verskeie bronne wat almal verskil oor die presiese bedrae en volgorde, maar die volgende vyf en die orde grootte van die bedrae word regdeur genoem):

  1. Michael Jordan Basketbal VSA $1bn
  2. Michael Schumacher F1 Duitsland $800m
  3. Vince McMahon Amerikaanse Voetbal VSA $750m
  4. Arnold Palmer Golf VSA $675m
  5. Tiger Woods Golf VSA $600m

Hierdie ouens is egter ver agter die grootste sportverdiener van alle tye. Volgens Professor Peter Struck van die University of Pennsylvania gaan hierdie lof aan Gaius Appuleius Diocles, ’n Romeinse koetsryer (“chariot�-bestuurder), wat die som van 35 863 120 sesterces (ou Romeinse geld) in sy loopbaan verdien het. Diocles het sy loopbaan in die jaar 122 op ouderdom 18 begin en na 42 jaar se wedrenne was hy 1 462 keer aan die wenkant, 861 tweede uit die totaal van 4 257 wedrenne wat hy begin het.

Hoekom is hy die sportman wat die meeste ooit verdien het? Volgens Prof. Struck kon sy prysgeld graan vir die hoofstad Rome vir ’n hele jaar koop. Anders bereken kon hy die Romeinse weermag vir meer as twee maande van kos voorsien. Konserwatief uitgewerk het jy meer as $15 miljard nodig om dieselfde te doen – dit is amper vier keer meer as die top vyf se gesamentlike waarde!

 

Warren Buffett se jaarlikse nuusbrief

Warren Buffett se jaarlikse nuusbrief

Oor die naweek het Warren Buffett se jaarlikse nuusbrief aan beleggers verskyn. Ek beskou hierdie nuusbrief as ’n moet lees, veral wat die beginsels en lesse daarin vervat, betref.

As agtergrond, staan die volgende sin in die brief nogal uit: “Through dumb luck, Charlie [sy vennoot] and I were born in the United States and we are forever grateful for the staggering advantages this accident of birth had given us�. Om hul fenomenale beleggingsukses in perspektief te plaas: Indien jy $100 in 1965 in Berkshire Hathaway sou belê het, sou dit vandag sowat $1,8m werd wees. Indien jy hierdie selfde $100 in die S&P 500 belê het, sou dit vandag sowat $11,196 werd wees. Berkshire Hathaway is tans die derde grootste genoteerde maatskappy in die VSA (na Apple en Exxon) en besit tans nege maatskappye binne die groep wat deel van die S&P 500 sou gewees het indien dié maatskappye apart genoteer was.

Belangrikste punte uit Buffett se nuusbrief

  1. “Aandele is oor die korttermyn baie meer wisselvallig as rente deposito’s. Oor die langtermyn is rente deposito’s baie meer riskant as ’n gediversifiseerde aandele portefeulje wat die belegger teen lae koste vir die langtermyn besit. Die vertrekpunt, wat in sakeskole geleer word, dat markbewegings dieselfde as risiko is, is eenvoudig verkeerd.� (Hy gebruik eintlik die woorde “dead wrong�). Buffett gaan voort deur te ondersteep dat rente wel oor die periode van een dag, een week of een jaar die opbrengs van aandele uitpresteer, maar dat dit nie die geval is in die langtermyn nie.As ek na die Suid-Afrikaanse ervaring oor die afgelope 115 jaar kyk, het aandele vir jou 7,4% per jaar bo inflasie gegee, terwyl kontant aan jou 1% bo inflasie per jaar gegee het. Oor die afgelope 10 jaar, het aandele jou 18,2% (voor inflasie) per jaar gegee terwyl kontant aan jou 7,2% (voor inflasie) gelewer het. Gedurende die afgelope 10 jaar was die inflasiekoers gemiddeld 6,05% wat jy van die 10 jaar syfers aftrek om te bepaal of jy vooruit geboer het. Die verdere probleem is dat rente gewoonlik onderhewig is aan belasting en, op ’n na-belaste basis, nie daarin slaag om met inflasie tred te hou nie!
  2. “Dit is voorspelbaar dat mense van tyd tot tyd paniekbevange gaan wees, dit is egter onmoontlik om te voorspel wanneer dit gaan gebeur. Dit is altyd moeilik om te voorspel wat môre gaan gebeur. Die dag voor 11 September 2001 het nie anders as enige ander dag gevoel nie. Omdat jy nie weet wat môre gaan gebeur nie, moet jy voorbereid wees op wisselvalligheid en markbewegings. In baie gevalle maak beleggers, deur hul eie gedrag, beleggings in aandele riskant – en baie mense doen dit.�Ons sien gereeld dat mense emosionele en sinnelose besluite maak indien markte skielik op of af beweeg. In meeste gevalle is dit juis hierdie besluite wat maak dat hulle uiteindelik die risiko in hul eie beleggings verhoog. Die advies hier is om op ’n langtermyn strategie te besluit en om dan gedissiplineerd by hierdie strategie te hou. So ’n strategie moet ook voorsiening maak vir tye wanneer die mark wisselvallig is en ook tye wanneer daar paniek heers.
  3. “Aktiewe verhandeling, pogings om te probeer raai wanneer die mark gaan opgaan of afgaan, onnodige fooie en kostes en om te belê met geleende geld is almal faktore wat langtermyn opbrengste verwoes. Kenners wat vooruitskattings maak, maak jou ore vol geraas, maar nooit jou beursie vol geld nie.�Daar is ’n paar gesonde kernbeginsels wat oor die jare heen vir beleggers gewerk het. Hierdie beginsels is gewoonlik eenvoudig en relatief konserwatief. In meeste gevalle, indien beleggers by hierdie beginsels hou en nie onnodige riskante strategieë volg nie, behoort meeste beleggers hul doelwitte te bereik.
  4. “Moenie ’n billike besigheid teen ’n goeie prys koop nie, koop ’n goeie besigheid teen ’n billike prys�. Hiermee saam beklemtoon Warren Buffet ook dat hy nie in besighede belê wat hy nie verstaan nie. Hy sluit veral IT besighede hier in. Buffett is ook gemaklik om eerder ’n beduidende minderheidsbelang in ’n uitstekende besigheid te besit as om volle beheer oor ’n so-so besigheid te neem.Aan die begin was Buffett baie sterk daarop ingestel om slegs beleggings te maak as hy dit teen ’n baie goedkoop prys kon kry. Hy verwys hierna as sy “cigar-butt strategy� waar hy die besigheid spotgoedkoop kry en dan ’n paar verniet trekke uit die sigaar kry. Hy meen hierdie was een van hul belangrikste strategie veranderinge in die 1960’s wat grootliks tot sy sukses bygedra het. Oor besighede wat hy nie verstaan nie, is daar drie hopies op sy lessenaar: Sy in-boks, sy uit-boks en die “te moeilik� boks wat verreweg die grootste hopie is. Hy maak nie ’n belegging as hy dit nie verstaan nie en stap baie maklik verby ’n geleentheid as hy dit nie ten volle verstaan nie. Wat sy belang in ’n besigheid betref, meen hy dit is beter om ’n gedeelte van ’n diamant te besit as ’n hele gewone stuk klip.
  5. “Kontant vir ’n besigheid is soos suurstof vir ’n mens. Jy besef nie elke dag hoe belangrik dit is nie, totdat dit nie meer daar is nie�.Besighede wat nie kontant genereer nie, of dit nou ’n belang in ‘n genoteerde besigheid of privaatbesigheid is, plaas of huurperseel is – indien die entiteit nie kontant genereer nie is die skrif aan die muur. Sterk kontantvloei is dan ook gewoonlik ’n teken van ’n goed bestuurde en gesonde besigheid.Buffett skram ook nie weg van foute nie en beklemtoon dat hy al baie foute gemaak het en dat hy steeds baie foute gaan maak. Hy meen egter dat een van sy grootste foute van so ’n omvang is dat hierdie fout in die Guiness Book of World Records opgeteken moet word. In 1993 koop hy Dexter Shoe vir $433 miljoen. Dexter het heeltemal ondergegaan en die belegging is afgeskryf na $0 toe. Hy het die eienaars van Dexter betaal met Berkshire aandele – daardie Berkshire Hathaway aandele is vandag $5,7 miljard werd.
  6. Buffett verwys regdeur die brief na die foute en verkeerde besluite wat hulle gemaak het en steeds maak. Tydens die 2014 jaarvergadering het hy die beginsel sterk beklemtoon dat dit belangrik is om foute onmiddellik aan te spreek as ’n manier om die uiteindelike impak van die foute te beperk. Die les is verder dat indien jy aandele uitreik om besighede te koop, die waarde van die aandele wat jy uitreik nooit hoër moet wees as die waarde van die besigheid wat jy koop nie.

Hier is ’n skakel na die volledige nuusbrief (lees veral bladsy 24 tot die einde met beide Warren en sy vennoot Charlie Munger se briewe aan aandeelhouers): Klik hier

Dr Simon Marais

Een van Suid-Afrika se grootse beleggingskundiges en mees aangename mense in die internasionale finansiële markte is verlede week oorlede: Dr Simon Marais. Simon het ’n doktorsgraad in fisika gehad, maar hy het sy naam in die beleggingswêreld gemaak en was tot onlangs nog die voorsitter van Allan Gray.

Hier is ’n skakel, vol beleggingsadvies, na ’n onderhoud wat ek laat verlede jaar met Simon gevoer het. As jy jouself en jou familie ’n paar lewenslesse oor beleggings wil leer, kyk gerus hierna:

 

Beleggingsprestasie tot einde Januarie 2015

Beleggingsprestasie tot einde Januarie 2015

Veral die effektemark het baie sterk presteer die afgelope drie maande met ’n totale opbrengs van 7,35% soos markte die laer inflasie verwagtinge begin inprys en kans op ’n rentekoers verhoging begin negeer. Ek hou steeds by my waarskuwing dat beleggers nie die groei van die afgelope 12 maande, vyf jaar en 10 jaar in die afsienbare toekoms moet verwag nie. Markte is duurder en sterk winsgroei is tot ’n groot mate reeds in die pryse van aandele verdiskonteer.

Wat egter opvallend is as ek na die afgelope 10 jaar se prestasie kyk, is die uitprestasie van die JSE relatief tot internasionale markte. Indien jou geld in die JSE was die afgelope 10 jaar, het jy 18,20% per jaar verdien. Dit beteken elke R1 000 wat jy 10 jaar gelede in die mark belê het, nou R5 300 werd is. As jy egter jou geld in die wêreldmarkte belê het (ek gebruik die MSCI Wêreldindeks), was die opbrengs 6,66% in VSA dollar terme wat gelyk is aan 14,04% in rand terme. In die hierdie geval het die R1 000 van 10 jaar gelede gegroei na R3 700 vandag.

Die afgelope 10 jaar het die JSE (in rand en in dollar) beter gedoen as die wêreldindekse. Hierdie was ten spyte van Pres Zuma se vrot leierskap, Eskom se probleme in 2008 en vandag, die swakker rand en al die korrupsie en wanadministrasie. Die rede is onder andere dat die JSE bestaan uit wêreldklas maatskappye met wêreldklas bestuur, wat besonder aanpasbaar is en vir wie inkomste reeds beduidend buite SA verdien word. Beteken hierdie jy hoef nie direk in die buiteland te belê nie? Nee, maar wees gerus dat jou plaaslike beleggings reeds ’n mate van internasionale verskansing geniet.

 

Wat moet jy doen as jy 10 jaar het voor aftrede?

Soos wat jy nader aan aftrede kom, raak die berekening en beplanning al hoe belangriker en dit raak krities om die regte dinge in plek te kry terwyl jy nog inkomste verdien. In hierdie artikel gebruik ek punte uit ’n artikel wat onlangs in TIME verskyn het, tesame met ’n paar Suid-Afrikaanse aanpassings.

  1. Maak seker jy spaar en belê tans genoeg. Die beginsel waarop so ’n berekening gebaseer moet word, is om te weet wat jy graag wil verdien as jy afgetree is. Jy moet dus weet wat die kapitale bedrag is wat nodig is om hierdie inkomste te verdien. Onthou, mense word baie ouer. Dit beteken jou kapitaal moet baie langer vir jou werk. Wees bedag daarop dat jou grootste langtermyn vyand inflasie is en nie markskommelinge of korttermyn prysbewegings nie.
  2. As jy dit kan verhelp, beplan jou aftrede op so ’n manier dat die huishouding se inkomste vanuit jou professie/beroep nie onmiddellik na nul daal nie. Dit is gewoonlik ’n groot skok op die kontantvloei. Hiermee bedoel die skrywer dat jy moet probeer beplan dat jy en jou vrou nie in dieselfde jaar aftree nie. ’n Ander opsie sou wees dat jy vir ’n periode kontrak- en/of konsultasiewerk doen net om aan die finansiële effek van ’n verminderde inkomste gewoond te raak.
  3. Moet nie by aftrede eenvoudig alle groeibates verkoop nie. Hier praat ek spesifiek van beleggings in aandele en kommersiële eiendom. Mense word baie ouer en daarom moet jou beleggings aan jou inkomste behoeftes vir 20 of 30 jaar lank kan voorsien. In baie gevalle is hierdie inkomste wat jy nou aan jouself moet betaal uit jou beleggings meer as haalbaar uit die bedrag wat jy gespaar het.
  4. Werk aggressief daaraan om enige skuld en daarmee saam rentekoste af te los. Ons sien gereeld mense wat ’n gemaklike aftrede aan rente weg betaal in die laaste dekade voor aftrede. Net soos wat saamgestelde groei in jou guns werk, negeer die betalings van rente die kans dat jou geld vir jou werk.
  5. Maak vriende met die jonger mense by die werk. Dit is hulle wat gaan besluit wanneer en op watter basis jy vervang gaan word. Die jongeres gaan die besluitnemers wees oor 10 jaar en, indien jy bietjie langer wil aanbly of deeltydse konsultasie-inkomste wil verdien, is hierdie die ouens wat daardie besluite oor jou gaan maak.

Onthou om voor 27 Februarie 2015 bydraes tot uittree-annuïteite te maak om te kwalifiseer vir die belastingvoordeel. Bydraes is aftrekbaar tot 15% van jou belasbare inkomste. Hierdie aftrekking is veral voordelig vir professionele mense, entrepreneurs en persone wat groot somme geld periodiek verdien. Raadpleeg jou finansiële adviseur of stuur ’n e-pos aan my as jy onseker is oor die werking hiervan.

Die Amerikaanse reguleerder, die SEC (US Securities Exchange Commission), het onlangs ’n lys vereistes en raad saamgestel waaraan elke belegging en beleggingsaanbeveling moet voldoen. Hierdie is van die punte wat net so van toepassing is op SA as die VSA.

  1. Gaan die agtergrond van die persoon wat die advies gee volledig na, dit is baie maklik en verniet.
  2. ’n Belofte van hoë opbrengste, sonder dat die baie hoë risiko’s daarmee saam uitgelig word, is gewoonlik ’n teken van bedrog.
  3. Om skuld af te betaal is in baie gevalle jou beste belegging.
  4. Maak seker jy verstaan en weet wat die totale fooie gekoppel aan die belegging is.
  5. Diversifikasie tussen beleggings en bateklasse verminder risiko.
  6. Aktiewe verhandeling verlaag opbrengste.
  7. Hoe meer oortuigend die adviseur, hoe groter is die kans dat hy/sy ’n kansvatter is.
  8. Pasop vir wenke en/of inligting van sosiale media en ander onbevestigde bronne.

Optimiste is gesonder as pessimiste

Daar het onlangs ’n artikel in die Guardian koerant in Engeland verskyn na aanleiding van ’n 11-jaar lange studie aan die Universiteit van Illinois in die VSA wat bevind het dat pessimiste gewoonlik in ’n baie swakker gesondheidstoestand is as optimiste. Die glas-half-leeg mense se kans om aan ’n hartaanval te sterf, is beduidend groter as dié van die half-vol-glas ouens.

Wat my getref het en wat die outeur van die artikel, Stuart Heritage uitlig, is dat dit die optimiste is wat ’n kans sal vat. Hulle sal gaan bungee-jump, daardie vreemde nuwe kos eet, diepsee duik of vakansie hou by een of ander eksotiese plek, terwyl die pessimiste gewoonlik die ouens is wat die gevare en risiko’s daarvan uitwys en sulke optrede ten alle koste vermy.

Die vraag is nou – hoe dan dat optimiste langer lewe en meer gesond is as hulle dan meer riskant te kere gaan? Ek dink (en dit is nie in die artikel of navorsing nie), dat die half-vol ouens gewoonlik gelukkiger is en die lewe beduidend meer geniet. Daarom leef hulle langer en is hulle meer gesond.

Nou as jy bang of pessimisties is, kyk gerus na hierdie video: “There is no problem so bad that you can’t make it worse.� Klik hier

Bill en Melinda Gates se jaarlikse nuusbrief is in Februarie gepubliseer. Ek beskou dit as een van die moet-lees dokumente van die jaar. Hier is ’n skakel na die nuusbrief: Klik hier

Ek het net ná die verskyning van die nuusbrief op Dagbreek daaroor gesels. Die Bill en Melinda Gates gedeelte van die gesprek is vanaf die vyfde tot die negende minuut in die insetsel hier.

 

Beleggingsprestasie tot einde Desember 2014

Die JSE aandelemark het die afgelope 12 maande ’n opbrengs gelewer van net minder as 11%. Die syfer dui aan dat die mark wel inflasie goed uitpresteer het, alhoewel die groei heelwat minder is as die gemiddelde vyf- en 10-jaar syfers. Ek dink dit is baie gesond, markte kan eenvoudig nie in ’n reguit lyn opwaarts beweeg nie.

Die vyf- en 10-jaar groeisyfers wat gemiddeld tussen 15% en 18% per jaar gelewer het, is volgens my nie volhoubaar nie. Beleggers se verwagtinge moet laer gestel wees vir die voorsienbare toekoms en die trant van groei gaan nader wees aan wat ons die afgelope 12 maande gesien het.

Welkom in 2015!

As julle na voorspellings luister, maak julle gordels vas…

Aan die begin van elke jaar is daar altyd hope vooruitskattings, senario’s en ’n sak vol raaiskote. Die een ding wat jy verseker van voorspelling weet is dat voorspellers, of dit nou analiste, ekonome of weerkundiges is, nie altyd baie akkuraat is nie. Enige ekonomiese of finansiële voorspelling vir ’n periode langer as drie jaar is gewoonlik nie akkuraat nie. Die kans is eerder goed dit gaan verkeerd wees.

As jy in die kristalbal die korrekte bateklas-wenners kon sien vir die jaar 2014, was twee van die wenners koffie met 58% groei en ook VSA biefstukpryse wat met 42% gestyg het.

Die grootste veranderlike die afgelope ses maande was die olieprys. Die prys van olie het meer as halveer (van rondom $115 per vat in die middel van die jaar na vlakke van om-en-by $50 per vat tans). Dit het tot groot veranderinge in aandeelpryse van energiemaatskappye gelei. (Sasol daal van R645 tot R400.) Dit is gevolg deur dalings in brandstofpryse wêreldwyd. Die resultaat is ’n vloei van olie-kostes/-winste weg van lande wat olie produseer na lande wat olie invoer.

Ek weet van geen analis, ekonoom of weerkundige wat hierdie reeks gebeurtenisse reg voorspel het nie. Daardie ouens wat nou meen dat hulle dit reg voorspel het is diegene wat 18 van die laaste twee dalings reg voorspel het – onthou, ’n stukkende horlosie is twee maal ’n dag korrek.

Nou waar laat dit ons aan die begin van 2015? Ons weet dat die Amerikaanse ekonomie sterk aan die optel is; dat die Europese ekonomieë al meer begin swaar trek met veral Duitsland wat gaan sukkel om positief te bly groei; dat die Chinese waarskynlik hul ekonomiese groeidoelwitte gaan verlaag na rondom 7% en dat Rusland gaan struikel teen die agtergrond van sanksies en ’n lae olieprys, saam met al die ander olieprodusente. Uiteraard gaan hierdie uiteenloplende posisies lei tot noemenswaardige kapitaalvloei veral vanuit opkomende markte, waaronder Suid-Afrika tel, na ’n sterk VSA ekonomie met stygende rentekoerse.

Maar voordat ek my eie (foutiewe) kristalbal uithaal – miskien so ’n paar vooruitskattings van mense wat baie meer weet, maar steeds nie gesien het dat die olieprys-situasie sou gebeur nie:

Die vooraanstaande VSA beleggingsbank Goldman Sachs (kort opgesom), meen dat die wêreld sterker gaan groei as in 2014 (3,4% teen 2014 se 3%), met die verskil van sterk groei in die  VSA (3,2%) en swakker groei in Europa (0,9%) en met China wat gaan afplat (na 7% groei).

Die wêreld het elke jaar sedert die tweede wêreldoorlog gegroei, met een uitsondering. Dit was die finansiële krisis van 2009. Let ook daarop dat, indien die wêreld teen 3,4% groei, dit beteken dat die grootte van die wêreld-ekonomie basies elke 20 jaar gaan verdubbel!

Wat opkomende lande betref – die lande wat kommoditeite uitvoer (soos Suid-Afrika), gaan swaar trek onder laer pryse, terwyl lande wat vervaardig voordeel sal trek uit ’n sterk VSA. Rentekoerse in die VSA gaan begin styg tesame met die Amerikaanse dollar wat sterker gaan word. Goldman Sachs verwag dat die olieprys vir die loop van die jaar op laer vlakke gaan bly. Wat beleggingsmarkte betref sien Goldman Sachs minder wisselvalligheid as in 2014, maar verwag dat opbrengste laer gaan wees. (Voordat jy alles hiervan glo, onthou hierdie is die ouens wat so paar jaar gelede ’n $200 olieprys voorspel het.)

Soos elke jaar is daar ’n legio risiko’s wat hierdie senario omver kan werp. China se groei kan steier onder hul interne skuldlaste; die Eurosone val uitmekaar; kapitaal storm uit opkomende markte na ’n sterk VSA dollar en jaag (ietwat) hoër Amerikaanse rentekoerse; of selfs ’n geo-politiese krisis ontstaan (Noord-Korea raak wild, ISIS lê die hele Midde Ooste lam, Putin se geduld met sy buurstate raak op, ens.). Die wêreld het egter voorheen reeds gewys dat indien die groot moonthede nie almal direk betrokke raak nie, sulke situasies as streeks-gebonde konflikte hanteer kan word.

Waar laat dit Suid-Afrika?

Soos dit nou lyk (onthou ons is uiters swak om groot veranderinge reg te voorspel, so neem hierdie met ’n sak sout), gaan ons groei darem bietjie beter wees (nader aan 2,5% as ons gelukkig is, steeds ver onder die 5% na 6% om werkloosheid aan te spreek); werkloosheid gaan rondom 25% bly (wat beteken daar is meer as 2,5 miljoen mense wat maandeliks onsuksesvol soek na werke wat nie bestaan nie plus 2,5 miljoen mense wat tou opgegooi het en nie eers meer die moeite doen om aktief te soek nie); die laer petrolprys gaan beteken dat inflasie gerieflik binne die Reserwe Bank se teikens bly en dat stygings in rentekoerse (indien dit gaan gebeur) minder en later in die jaar gaan wees; ons gaan meer belasting moet betaal (die owerheid soek ekstra geld) en die rand, onder die druk van ’n sterk dollar (veral a.g.v. kapitaalvloei uit die opkomende markte na die VSA) en tekort op ons betalingsbalans, gaan die wind van voor kry.

As jy wil geld maak uit voorspellings kan jy jou geld 16-keer verdubbel as jy meen Suid-Afrika gaan in 2015 beide die krieket- en rugby-wêreldbekers wen. Ek beskou hierdie kansvat in dieselfde lig as iemand wat beleggings maak suiwer op grond van voorspellings.

’n Paar feite oor beleggings, net om seker te maak ons fokus op die regte dinge

  1. Gedurende die periode vanaf 1928 tot 2013 het die VSA-mark met ’n faktor van 2 000 keer verdubbel. Oor dieselfde periode het die VSA-mark egter in 20 afsonderlike gevalle met meer as 20% gedaal.
  2. Sedert 1980 het 40% van Amerikaanse aandele in ’n stadium ’n daling van meer as 70% beleef – à la JP Morgan.
  3. Oor die afgelope 20 jaar het 72% van effektetrusts en groeifondse nie die onderliggende indeks in die VSA geklop nie (volgens Vanguard). Hierdie syfers is in lyn met Suid-Afrikaanse beleggings wat nie ons eie indekse (JSE) kan klop nie.

Teen hierdie agtergrond is die volgende opgedateerde studie (JP Morgan, Januarie 2015) baie insiggewend. Dit wys die groei van verskillende bateklasse in die VSA oor die 20-jaar periode vanaf 1994 tot einde 2013.

Die groei stel die jaarlikse saamgestelde groei van ’n seleksie bateklasse voor en wys dan hoe die gemiddelde VSA-belegger presteer het relatief tot die bateklasse.

Kommersiële eiendom

10.3%

Aandele (S&P 500)

9.2%

Goud

5.8%

Rentedraende effekte

5.7%

Woonhuise

3.1%

Gemiddelde belegger

2.5%

Inflasie

2.4%

Ten minste het die gemiddelde belegger darem (net, net) inflasie geklop. Die vraag is waarom die belegger nie die opbrengste verdien wat die mark gegee het nie. Die rede is kortliks dat mense emosionele besluite maak en nie in die mark bly vir die langtermyn-opbrengste wat die mark bied nie en ons oorskat ons vermoë om te raai wat die mark gaan doen voor die mark beweeg. Die ander probleem is dat beleggers te veel aan kostes wegbetaal vir mense wat nie die mark kan klop nie (punt drie hierbo).

Hoe kom die belegger verby hierdie emosionele boete van onderprestasie – die 2,5% groei terwyl markte heelwat meer gelewer het?

Die antwoord bly om te fokus op ’n lae-koste gediversifiseerde beleggingsportefeulje, tesame met ’n langtermyn-plan wat by jou eie doelwitte en risikoprofiel pas.

Hoe om swak beleggingsadvies te identifiseer

Dan Solin, die New York Times joernalis, lig drie gevalle uit van hoe om te identifiseer dat jy swak beleggingsadvies kry:

  1. As die adviseur jou probeer oortuig watter aandeel of aandele die volgende jaar beter as ander gaan presteer en dat hy/sy oor die vermoë beskik om hierdie aandele uit te kies.
  2. As die adviseur jou probeer oortuig dat hy/sy weet wanneer markte op of af gaan beweeg, d.w.s. die adviseur reken hy/sy weet beter as al die ander duisende hoogs-opgeleide analiste en beleggers wat hulle almal volgende gaan doen, alvorens hulle dit self weet.
  3. As die adviseur jou probeer vertel watter fonds (of fondse) gaan volgende jaar beter as die mark presteer en daarvolgens jou beleggings probeer bestuur.

Hy deel advies in die kategorieë “the good, the bad and the ugly� en meen hierdie tipe voorstellings val in die “ugly� kategorie. Jy kan goedkoper wegkom deur ’n “flip a coin� strategie en dit sommer self te doen, aldus Solin.

Skryf ’n goeie CV vir die nuwe jaar

Aan die begin van die jaar skryf mense, veral jong mense, CV’s om werk te kry. Ander hoop om hul nuwe jaar se voornemens uit te lewe en is dan ook op soek na daardie droomwerk.’n Vise-president van Google en hoof van hul personeel het so ’n paar punte uitgelig wat jou sal help met daardie CV:

  1. Maak seker daar is geen tikfoute nie – dít skep ’n uiters swak indruk. Mense wat gereeld hul CV’s opdateer of aanpas is gewoonlik die mense wat tikfoute laat insluip. Studies het gewys dat 58% van CV’s een of meer spelfoute het.
  2. Meeste mense se CV’s is te lank. Onthou ’n CV is daar om ’n onderhoud te kry of om jou op ’n kortlys te plaas. Die CV gaan jou nie die werk gee nie. Sy reël is basies een bladsy vir elke 10 jaar gewerk. Die skrywer Blaise Pascal se woorde “ek sou ’n korter brief geskryf het as ek meer tyd gehad het� is hier baie relevant.
  3. Die formaat moet eenvoudig en saaklik wees, behalwe as jy vir ’n grafiese kuns of rekenaarspeletjie-pos aansoek doen. Die CV moet maklik lees met gewone spasiëring en gewone teksformaat – swart ink op wit papier.
  4. Moet nooit iets vertroulik in jou CV plaas nie, veral nie as dit oor ’n vorige werknemer of akademiese instelling gaan nie. As jy iets vertroulik van ’n ander instelling verkondig, wat verhoed jou om dieselfde te doen met die instelling waar jy vir werk aansoek doen? As mense jou nie kan vertrou nie, gaan hulle nie vir jou werk gee nie.
  5. Praat altyd die waarhied, nie eens wit leuens gaan werk nie. As jy een vak kort vir jou graad, het jy mos nie die graad voltooi nie. Moet nie nou probeer voorgee jy het die kwalifikasie nie. Hierdie geld ook vir vorige werksondervinding waar mense voorgee hul was meer senior en/of het meer verdien as wat hulle werklik verdien het. Die wêreld is kleiner as wat jy dink en daar is meer inligting vrylik beskikbaar as wat mense besef.
  6. Maak seker dat jou dekbrief korrek geaddresseer is. Dit is ook belangrik dat jou CV vanaf ’n professionele e-posadres kom. Jou vriende dink dalk jou “sexy@gmail.com� of “yster@mweb.co.za� is baie snaaks, maar wees versigtig. Gebruik liewer ’n adres wat in ’n werkomgewing pas.

Nou na al hierdie – VAT DIE JAAR VOOR HY JOU VAT!

 

Geseënde Kersfees

Beleggingsprestasie tot einde November 2014

Vir beleggers was die afgelope 12 maande tot einde November 2014 steeds ’n uitstekende periode. Groeibates het inflasie se 5,9% verarming met gemak geklop, soos uit die syfers duidelik blyk. Ek hou steeds by die punt dat die mark relatief duur is en dat ons een of ader tyd ’n periode van laer opbrengste gaan beleef. Die afgelope 12 maande se 14,4% groei in aandeelpryse was reeds laer as die afgelope vyf jaar se 16,5% p.j. en die afgelope 10 jaar se 18,2% p.j., as die JSE Algehele Indeks as maatstaf gebruik word.

Hierdie ontledings en samestelling is bloot uit die onderskeie indekse gemoduleer. Onthou dat historiese prestasie nie noodwendig ’n voorspeller van toekomstige prestasie is nie.

Beleggers sal hulle moet staal vir meer wisselvalligheid (die direkte Engelse vertaling van volatiliteit klink darem bietjie sagter) en ook die moontlikheid van teleurstellings, soos ons met African Bank (ABIL) ervaar het, en nou ook met Sasol sien.

Die huidige meer as 35% daling in die aandeleprys van Sasol (van R645 in Junie tot net bo R420 tans) wys weer eens die waarde van diversifikasie. Sasol bly ’n uitstekende besigheid met uitstekende bates en wêreldklas tegnologie, maar die olieprys wat vanaf $115 per vat tot onder $70 per vat oor dieselfde periode gedaal het, het alle olie en petroleum maatskappye geraak. Hierdie rondte gaan die Opec lande sorg dat markkragte die marginale nuwe produsente uit die mark  forseer.

Kyk hier na my onlangse Dagbreek onderhoud waartydens ek my opinie oor die olieprys en Sasol gee: http://youtu.be/GPAOIlbcnVM

Ons toekoms

Daar het die afgelope tyd heelwat artikels verskyn oor Suid-Afrika en die toekoms van die land. Die grafiek hieronder wys die prestasie van die JSE teenoor ander wêreldmarkte, in VSA dollar terme. Die JSE het tot ’n groot mate ’n wêreldmark geword wat ander wêreldmarkte en wêreldgeldeenhede volg, onder andere omdat die meerderheid van die JSE se top maatskappye se pryse internasionaal bepaal word. Die meeste van hierdie maatskappye se besigheid word buite Suid-Afrika gedoen en ’n groot deel van hierdie maatskappye se aandeelhouers is buitelandse beleggers.

Kan geld geluk koop?

’n Paar goue, of beter nog, sjokolade reëls

Hierdie is ’n onderwerp wat ons reeds bespreek het, maar aangesien nuwe navorsing gepubliseer is, ondersoek ons weer die vraag. Na aanleiding van ’n onlangse artikel in die Wall Street Journal – as mens die navorsing in diepte bestudeer - is daar nie noodwendig ’n voor die hand liggende oplossing nie.

Die jongste navorsing bewys dat dit nie soseer welvaart is wat ’n gelukkige lewe waarborg nie, maar eerder hoe mens jou beskikbare geld bestee. Die gevolgtrekking wat deur die navorsers bereik word, is dat dit mense gelukkiger maak om geld weg te gee as om geld op hulself te spandeer. Verder put mense meer geluk daaruit om geld op ervarings soos reis en uiteet te spandeer as die bymekaarmaak van materiële goedere. Die volgende vraag waarop navorsers dan fokus is of mense  hul spanderingspatrone kan aanpas om gelukkiger te wees?

  • Ervaring teenoor luukse artikels

Prof. Howell, ’n professor in sielkunde in San Francisco, het navorsing gedoen om die verskil in die uitkoms van geluk te vergelyk tussen die spandering van geld op ’n ervaring (bv. vakansie) teenoor spandering van geld op ’n luukse produk. Prof. Howell het tot die gevolgtrekking gekom dat mense meer waarde uit ’n ervaring put, al gaan dit gou verby, as uit ’n luukse, duursame aankoop  in die langer termyn.

Die fout wat mense maak noem hy “misforecast�. Mense dink verkeerdelik hulle gaan beter waarde en geluk uit die luukse aankoop kry as uit die korter ervaring. Wanneer mense egter later terugkyk, is dit duidelik dat die ervarings nie net meer waarde gebied het nie, maar ook meer geluk tot hul lewens gevoeg het.

Prof. Gilovich van Cornell stem hiermee saam en voeg by dat mense aanpas by materiële aankope en later nie meer geluk en waarde daaruit put nie. Ons raak gou gewoond aan nuwe besittings soos ’n nuwe motor of nuwe klere. ’n Spesifieke ervaring soos ’n reis bly ’n leeftyd by jou en word deel van jou menswees. “ ’n Staptog in die Himalayas bly jou lewe lank deel van jou ervaringswêreld terwyl selfs die luuksste artikel dan al ashoop toe is,� is hoe hy dit omskryf.

Aangesien ons aanpas by luukse materiële artikels, word die waarde en genot wat jy daaruit put al hoe minder. Een van die tegnieke om dit teen te werk, is om tydelik van die luukshede weg te pak pak of selfs net om ’n kunswerk te skuif sodat ons dit weer kan waardeer. Prof. Dunn van British Columbia Universiteit gebruik die voorbeeld van sjokolade om hierdie beginsel te illustreer. Sy deel haar studente in drie groepe. Een groep kry oorgenoeg sjokolade en moet dit deurlopend eet, die tweede groep kry dieselfde hoeveelheid sjokolade soos hulle gewoonlik eet en die derde groep word vir ’n periode ontneem van enige sjokolade.

Watter een van hierdie drie groepe geniet die sjokolade die meeste?  Dit is voor die hand liggend. Die mense wat ontneem is van die sjokolade geniet dit baie, baie meer as die lede van die ander twee groepe. Deur jouself te ontneem van luukshede kan jy die waarde en genot daarvan verleng en jouself help om nie bloot daaraan gewoond te raak nie.

  • Gee geld weg

Dit maak mense gelukkiger om geld vir ander te gee as om dit op hulself te spandeer. Hierdie genot word gedeel deur mense in verskillende lande en ook in verskillende klasse. Verskeie akademiese studies in veskillende lande onder verskillende klasse in die samelewing bevestig hierdie beginsel. Die geluk wat geput word uit om te gee, hang nie af van die hoeveelheid geld wat gegee word nie (of hoe ryk of arm jy is nie), maar oor die verskil wat die geld in iemand anders se lewe kan maak.

  • Koop tyd

Een van die beter beleggings wat gemaak kan word, is om tyd te koop. Die toonaangewende studie deur Alois Stutzer en Bruno Frey van die Universiteit van Zurich het probeer vasstel wat die invloed van die afstand tussen jou huis en werkplek op jou inkomste en geluk is. Koop ek ’n groter luukser huis verder van my werkplek, tesame met ’n nuwe luukse motor of spandeer ek eerder meer geld op ’n kleiner huis nader aan die werk sonder om die luukse motor vir die daaglikse rit te koop?

Die gevolgtrekking van die navorsing was kortliks dat vir elke uur in die verkeer van en na die werkplek, moet jy  ten minste 40% meer verdien om  dieselfde waarde gemeet aan wat die groter huis en luukser motor tot jou geluk bydra, te regverdig. Anders gestel, jy moet 40% meer verdien om op te maak vir die ongelukkigheid en frustrasie wat die ekstra tyd in die verkeer meebring!

  • Nou wat nou?

Wat wel uit die meeste studies vasgestel kan word, is dat, indien jy nie geld het nie, enige ekstra geld ’n groot verskil aan jou geluk maak. Daar kom egter ’n punt wanneer die ekstra geld nie meer ’n groot verskil maak nie en waar dit moeiliker word om geluk te koop. Dit is hier waar wyser  spandering van die geld belangrik word!

Wat soos ’n paal bo water staan is dat indien jy geld spandeer wat jy nie het nie, jy verseker op die verkeerde pad is. Dan werk niks van hierdie opmerkings nie.

(Skakel na die volledige artikel: http://on.wsj.com/1tv8DgS)

Aanbevelings vir 2015

Ek maak baie min direkte beleggingsvoorspellings, maar wil tog twee voorspellings waag. Die een is meer  ’n waarskuwing en die ander ’n aanbeveling.

  1. Valutahandel (forex trading) Indien jy aktief met valuta handel, is die kans 68% dat jy elke kwartaal geld gaan verloor. Die meeste mense wat aktief valuta handel se kapitaal hou nie veel langer as vier maande  nie, dan is dit alles op, aldus Bloomberg. Dit is uiters riskant en bykans onmoontlik vir enige individu om met die banke se spesialiste te probeer kompeteer en om dan nog te dink jy gaan hulle uitpresteer deur self te spekuleer. Jou kanse is niks beter as jou kanse by ’n dobbelhuis nie, maar sonder die mooi meisies en eetgoed. Onthou die gesegde “active trading is bad for your wealth� van Prof. Odean van Berkley.
  2. Koop Sjokolade Teen die jaar 2020 gaan die vraag na goeie kwaliteit sjokolade die aanbod met meer as ’n miljoen ton per jaar oorskry en teen 2030 gaan hierdie jaarlikse tekort meer as twee miljoen ton wees. Goeie kwaliteit sjokolade is vining besig om ’n delikatesse te word, volgens Mars Inc. (die wêreld se grootste sjokolade maatskappy). Die kakao-oes is eenvoudig nie groot genoeg om aan die groeiende behoefte en vraag te voldoen nie. Ons voorland is ’n kunsmatige laboratorium produk – soos rose wat nie meer soos rose ruik nie!

My beleggingsaanbeveling vir 2015: Kwalitiet sjokolade teen huidige pryse gaan jou nie net gelukkiger maak nie, dit is boonop ’n winskoop!

Markoorsig: Oktober 2014

Familiebesighede word soms onderskat

Die Economist tydskrif het ’n baie insiggewende artikel gepubliseer oor familiebesighede en waarom familiebesighede suksesvol is. Die verwagting 50 jaar gelede was dat familiebesighede (die definisie wat hulle gebruik is dat die familie meer as 18% van die aandele moet besit en ook die reg moet hê om die uitvoerende hoof te mag aanstel), stadig gaan verdwyn. Ook dat die besigheidslandskap deur professioneel-bestuurde besighede besit deur finansiële instellings oorheers gaan word. Dit het nie gebeur nie. Vandag is 18% van die maatskappye in die Fortune 500 familiebesighede, meer as die 15% wat dit in 2006 was.

In Europa word meer as 40% van die groot genoteerde besighede steeds deur families beheer.

Voorbeelde van  sulke besighede, in geen spesifieke volgorde nie, hierdie paar bekende familiebesighede: Walmart, Volkswagen, Toyota, Ford, Samsung, Louis Vuitton, Clarins, Marriott, Heineken, Fiat, BMW, Gap, Levi Strauss en Porsche, om dan nie eens van die jong generasie IT maatskappye soos Apple, Microsoft, Facebook en Google, tesame met Warren Buffett se Berkshire Hathaway, te praat nie. Buffett het reeds aangekondig dat sy seun by hom as voorsitter gaan oorneem en dat sy kleinseun daarná gaan oorneem as voorsitter.

Die artikel raak werklik interessant as mens na die redes vir die groei en uitprestasie van familiebesighede kyk. In die artikel word die volgende redes aangevoer:

  1. Daar was ’n baie talentvolle entrepreneur wat die besigheid geskep het wat, in sy leeftyd, die vryheid geniet het om dinge gedoen te kry (onder andere as gevolg van die beherende aandeelhouding) wat ’n mededingende voordeel aan die maatskappy gegee het. Erfgename kry dit reg om hierdie voordeel te gebruik ná die heengaan van die stigter deur by die beginsels, soos deur die stigter neergelê, te hou.
  2. Privaatmaatskappye het ’n baie langer termyn siening oor die besigheid. Wanneer daar nie ’n beherende familie is nie, is maatskappye geneig om te fokus om korttermyn opbrengs vir aandeelhouers te gee en nie altyd op wat die beste vir die maatskappy in die langtermyn is nie.
  3. Familiebesighede het gewoonlik minder skuld. Hierdie afsydigheid teenoor skuld kan groei in die korttermyn temper, maar maak die maatskappye baie meer bestand teen skokke in moeiliker tye.
  4. Familiebesighede het gewoonlik beter arbeidsverhoudinge en ook ’n beter korporatiewe kultuur. Die werknemers glo baie makliker die stigter of sy familie wanneer dit kom by langtermyn beloftes, as ’n professionele bestuurder wat dalk oor ’n jaar of twee by ’n ander maatskappy gaan werk.

Daar is ook akademiese studies wat wys dat familiebesighede ander nie-familie besighede oor periodes uitpresteer. ’n Europese studie het bereken dat as jy €1 000 in 2001 in genoteerde Europese familie beheerde besighede belê het, die waarde aan die einde van die dekade sowat €3 533 sou wees. Indien jy dieselfde in genoteerde nie-familie besighede belê het, sou die ooreenstemmende waarde€2 241 gewees het. Kortom, die uitprestasie het op sowat 5% addisionele groei per jaar uitgewerk.

Dit blyk dat die grootste uitdaging by familiebesighede die oorgaan van bestuur van een generasie na die volgende is. Dit is juis hier waar familietwis en swak uitvoerende hoofde die besighede kan sink. Die kritiese element hier is om te sorg dat alle besigheidsbesluite volgens sakebeginsels moet geskied en dat daar ’n onderskeid tussen die familie en die besigheid getref moet word.

Van die punte wat uitgelig word, is dat familiebesighede nie familielede in senior posisies moet aanstel wat nie bevoeg is nie, net so ook nie mense moet aanstel wat nie die werk wíl doen nie – beide van hierdie aanstellings kan die besigheid sink.

Op die JSE is die beste voorbeeld van ’n suksesvolle genoteerde familiebesigheid sekerlik die Rembrandt groep van maatskappye. Enige persoon wat Rembrandt aandele die afgelope dekades besit het, sal getuig van die uitmuntende prestasie van die besighede.

Die ou beleggingswenk wat steeds gewig dra, is om te sorg “dat jou eie geld is waar die familie se geld is�. Só is jy verseker dat die beherende familie na jou belange ook sal omsien. Kort nadat Jannie Mouton in 2008 vir sy seun Piet as uitvoerende hoof aangestel het, het ek vir Jannie gevra hoe hy op aantygings van nepotisme t.o.v. die aanstelling van sy seun reageer. Jannie se antwoord was eenvoudig: “Al my familie se welvaart is opgesluit in PSG aandele. Ek gaan tog seker maak dat ek die beste persoon kies om na my familie se welvaart om te sien�.

In my Sakegesprek onderhoude het ek met twee opvolg-generasie sakeleiers gesels – Piet Mouton wat by sy pa Jannie oorgeneem het en PSG onder sy bestuur van ’n R5,5 miljard besigheid tot ’n R20 miljard besigheid laat groei het en Sven Thieme wat aan die hoof staan van ’n besigheid wat in in 1919 deur sy oupa gestig is en wat  vandag veral bekend is as die brouers en eienaars van Windhoek Lager.

Hier is die skakels na die twee onderhoude:

Piet Mouton: http://youtu.be/MZm1UAE33PA
Sven Thieme: http://youtu.be/agOeNY-Y988

Kyk ook na die tweede deel (van 3:30 tot 7:30 min) van hierdie onderhoud op kykNET se Dagbreek program wat handel oor familiebesighede:
http://youtu.be/fZZg8BH8Z9sKlik hier vir die Economist artikel

 

Beleggingsprestasie tot einde Oktober 2014

Hierdie ontledings en samestelling is bloot uit die onderskeie indekse gemoduleer. Onthou dat historiese prestasie nie noodwendig ’n voorspeller van toekomstige prestasie is nie.

Markte beweeg nooit in ’n reguit lyn nie

Die JSE algehele indeks (op ’n totale opbrengsbasis beteken dit dat die dividende wat ontvang was gedurende die periode herbelê is), was met 2% negatief die afgelope drie maande. As ons na die afgelope 12 maande kyk, het die JSE vir jou ’n opbrengs van 12,54% gegee. Dit is in lyn met die langtermyn gemiddelde opbrengs oor die afgelope meer as ’n 100 jaar.As mens na die grafiek van die algehele indeks (sonder dividende) die afgelope 15 jaar kyk, dan beleef die mark ’n 10% daling, bykans elke jaar, iewers in die loop van die jaar. Die probleem is egter dat ’n mens nooit weet wanneer dit gaan gebeur en hoe vinnig die herstel gaan wees nie. Dit bevestig die beginsel dat dit beter is om te fokus op jou bate allokasie en seker te maak dat die samestelling van jou bates reg is en om nie te probeer fokus op jou vermoë om te raai wat volgende gaan gebeur en hoe markte daarop gaan reageer nie.

VSA brandstofpryse

As ons in Amerika gewoon het, was die petrolprys nou op dieselfde vlakke as wat dit in laat 2007 en vroeër was en terug op die prys wat dit in Desember 2010 was. Om dit in perspektief te plaas: Die petrolprys in Suid-Afrika is tans sowat R13,00 per liter. In vroeg 2008 was die prys R7,50 per liter en in Desember 2010 was die prys R8,30 per liter.

Die gevolg is dat ons petrolprys nou sowat 73% hoër is as in 2008 en sowat 57% hoër is as in Desember 2010. Hoewel Amerikaanse goedkoop skaliegas ’n rol speel in die laer Amerikaanse energiekostes, is hierdie styging in ons eie petrolprys primêr te wyte aan die swakker rand. Hierdie styging in die petrolprys wys die direkte effek van ’n swakker geldeenheid op inflasie en kostes – nie net vir die verbruiker nie, maar ook vir enige besigheid.

Markoorsig: September 2014

Hoe om ’n hoë risiko beleggingsfoefie uit te ken

Daar is nie ’n eenvoudige reël om ’n hoë risiko beleggingsfoefie te onderskei van ’n wettige belegging nie. Die nagevolge daarvan om in só ’n skema gevang te word, is nie net vernederend nie, maar jy verloor gewoonlik meer as die beloofde opbrengs – jy verloor jou kapitaal ook!

Daar is egter ’n hele paar dinge wat jou kan waarsku dat jy moontlik met ’n beleggingsfoefie te doen het – hier is ’n paar van die waarskuwingstekens:

  1. Daar word ’n lekker stywe opbrengs per jaar gewaarborg. Risikovrye opbrengs is gewoonlik hier in die omgewing van so 7%. Alles bo 7% vereis die neem van risiko. Die bes-presterende bateklas oor lang periodes van tyd is aandele, waar die langtermynopbrengs rondom 12½% is, wat natuurlik gepaard gaan met markbewegings en verseker nie elke jaar dieselfde is nie.  Kortom – as jy opbrengste bo 15% belowe word en dit word boonop vir elke jaar belowe, moet jy dit as ’n (baie helder) rooi lig beskou. Die vraag is nie óf dit gaan platval nie, maar wanneer!
  2. Die “skelm� beleggingsadviseurs kan jy altyd deur ʼn ring trek. Hoe beter die verkoopspersoon aangetrek is, hoe groter die kans dat jy gevang gaan word, soos dr Simon Marais dit op Sakegesprek toegelig het. Pasop vir daardie blink skoene, snyerspak en die veelkleurige brosjure!
  3. Die oomblik wanneer daar eksklusiwiteit of dringendheid aan die belegging gekoppel word, is daar gewoonlik ’n slang in die gras. Dit word aan jou voorgehou as ’n beperkte aanbod en dat jy vinnig moet besluit anders gaan die geleentheid by jou verbygaan – wel, laat hierdie geleentheid so vinnig moontlik verbygaan!
  4. Die produk is baie kompleks en daar is een of ander geheime resep (wat net hulle ken) agter die opbrengste. Hoe meer kompleks en hoe meer vertroulik die produk, hoe groter is die kans dat jy jou kapitaal gaan verloor.
  5. Jy word vertel van ander baie suksesvolle beleggers wat fenomenale opbrengste verdien het. Die probleem is egter dat hulle jou geld nodig het om hierdie opbrengste te kan betaal. Net soos die jakkalse nog nuwe beleggers moet oorreed om jou van ’n opbrengs te voorsien.
  6. Jy moet weet wat die bate is wat die opbrengs moet lewer. In ’n eiendomsbelegging staan daar ’n gebou; as jy ’n aandeelportefeulje of groeifonds het, besit jy ’n belang in ’n besigheid – dit is wanneer jy nie jou hande op die onderliggende bate kan lê nie, dat daardie bate gewoonlik nie so veilig is nie.

Wat sou ek graag in my twintigs van geld en beleggings wou weet?

Oor werk en jou houding tot werk

  1. Terwyl jy jonk is, is dit belangrik om die regte werkgewer te kies en nie te fokus op die grootste beginsalaris of langste titel nie. Dit is baie makliker om vinniger opgang te maak in ’n besigheid wat in ’n groeifase is, as om vooruit te gaan in ’n groot, lomp stagnerende groep. Jy sal gou meer verantwoordelikheid kry en daarmee saam bevorder word in ’n kleiner groeiende onderneming, as in groot maatskappye.
  2. Fokus op die verkryging van vaardighede en los die druk vir ’n groter salaris vir later in jou lewe. Terwyl jy jonk is, kan jy fokus daarop om jou vaardighede op te bou en om ervaring op te doen op verskillende gebiede. Dit gaan jou later in jou loopbaan baat. Verdien eerder nou R10 000 of R20 000 minder elke jaar, sodat jy later ’n honderd of twee duisend rand meer kan verdien.
  3. Volg eerder jou passie as om elke sent te probeer najaag. Die ideaal gaan wees om later jou passie so goed te doen dat iemand jou daarvoor gaan betaal en dan sal jy “nooit ’n dag in jou lewe hoef te werk nie�. Dit is doodeenvoudig waar dat mense wat passievol is oor wat hulle doen, altyd meer suksesvol is as mense wat bloot die werk doen vir die salaris aan die einde van die maand. “Jy moet vir meer werk as net jou salaris.�

Oor geld en die waarde van geld

  1. Vereffen jou kredietkaarte, winkelrekeninge en korttermyn lenings altyd binne die rentevrye periode. Geen beleggingsopbrengs kom by die na-belaste koste van korttermyn rentekoerse nie, veral nie as jy jou kruideniersware oor ses, 12 of selfs 48 maande probeer finansier nie.
  2. Maak seker jy struktureer ’n finansiële plan vir jouself. Onthou, selfs ’n basiese plan is beter as geen plan nie. Hierdie plan moet insluit: die positiewe invloed van saamgestelde rente / opbrengste en ook die navolging van ’n haalbare begroting. 
  3. Verstaan wat beleggings is. Onthou daar is ’n groot verskil tussen om te spaar en om te belê.  Spaar is om geld aan die einde van die maand oor te hê en rente op die surplus te verdien; belê is om daardie geld in groeibates aan te wend wat oor die langtermyn vir jou ten minste ’n opbrengs hoër as die inflasiekoers gaan bied. Terwyl jy jonk is, het jy baie lang horisonne wat die voordeel van samegestelde groei aan jou bied en uiteindelik verseker dat jou geld vir jou werk.
  4. Geld maak jou nie gelukkig nie. As jy byvoorbeeld genoeg geld verdien om ’n eerste motor te kan aanskaf, in plaas daarvan om te moet stap, maak die geld om ’n motor te kan aanskaf ’n groot verskil aan die kwaliteit van jou lewe. Die verskil  tussen ’n twee-liter en ’n drie-liter sportmotor maak egter nie veel van ’n verskil in hoe gelukkig jy is nie. Hoe meer geld jy later verdien, hoe kleiner is die invloed van nog ’n ekstra miljoen op jou uiteindelike geluk. Geluk is om iets te doen waarvan jy hou en wat jou intellektueel en emosioneel stimuleer deur die hele maand, nie net op betaaldag nie!

Net om die hele appelkar om te gooi – in een van die Sakegesprek met Theo Vorsteronderhoude het ek vir Suid-Afrika se grootste media en elektroniese entrepreneur die volgende vraag gevra: “Met jou kennis vandag, wat sou jou raad aan ’n 20- jarige Koos Bekker gewees het?â€� Koos Bekker se antwoord was kort en tot die punt: “Moenie vir Koos luister nieâ€�. Hy het hiermee bedoel dat elkeen sy eie mens moet wees en sy eie toekoms moet bou. Ek dink tog dat daar beginsels is wat ons almal, miskien selfs ’n 20-jarige Koos, met waarde in ons eie lewe kan toepas.

 

Beleggingsprestasie tot einde September 2014

Hierdie ontledings en samestelling is bloot uit die onderskeie indekse gemoduleer. Onthou dat historiese prestasie nie noodwendig ’n voorspeller van toekomstige prestasie is nie.

 

Kommentaar

In die prestasiesyfers tot einde Augustus het ek gewaarsku dat die mark rondom 20% oorprys kan wees. Hierdie was gebasseer op beide fundamentale redes, asook die feit dat die mark nou reeds vir ’n lang periode bo-gemiddelde groei geniet het, en dat ons een of ander tyd hiervoor sal moet betaal – gewoonlik in die vorm van laer prestasies vir ’n jaar of twee.

In die kwartaal tot einde September was die prestasie inderdaad negatief met die daling van die hoogtepunt wat op ’n stadium 7% beloop het. Hoewel ek nie skerp dalings verwag nie (daar is steeds net te veel goedkoop kontant in omloop, ons groter maatskappye se waardes word op internasionale markte bepaal en ander bateklasse bied nie ’n werklike sinvolle alternatief nie), meen ek dat ons moet regmaak vir laer opbrengste en meer wisselvalligheid in opbrengste.

Beleggers moet steeds fokus op diversifikasie tussen bateklasse en seker maak hul is gemaklik met die moontlike wisselvalligheid in die waarde van bateklasse vorentoe.

Japie Grobler

Boer en President: Agrisektor-forum

Theo se gas is Japie Grobler, vooraanstaande boer. Hy is reeds vir dekades ’n leidende figuur in georganiseerde landbou in Suid-Afrika. Die gesprek begin by Japie se besluit om eers sy regsgraad te voltooi alvorens hy saam met sy pa begin boer. Hy gee sy opinie oor wat nodig is vir ’n pa en seun om suksesvol saam te boer. Japie vertel ook hoe dit in sy geval goed uitgewerk het.

Die gesprek staan stil by Japie se termyn as voorsitter van Senwes. Theo vra Japie uit oor wat hulle reg gedoen het om die maatskappy van ’n tegniese bankrotskap na’n suksesvolle onderneming om te swaai. (Met Japie se uittrede verlede jaar het Senwes sowat R260m wins gemaak.)

Japie deel sy advies aan jong boere. Hy beklemtoon van die foute wat boere maak. Aangesien hy steeds nou betrokke is by georganiseerde landbou deel hy sy ingeligte opinie oor grondhervorming. Hy sê waarom hy positief is en gee sy indrukke van die huidige debat. Japie glo dat boere en die regering wel by ’n sinvolle oplossing gaan uitkom.