Jan van Heteren

Restourant- en hotel-entrepreneur

Vanaand is Theo se gas Jan van Heteren. Jan het grootgeword in die restourantbedryf. Sy pa, ’n immigrant uit Nederland, het een van Pretoria se spogrestourante besit. Daar het hy gesorg dat sy seuns van skooldae af daagliks in die restourant werk. Hy praat in die program oor sy beroepsopsies om te moes kies tussen om ’n kommersiële vlieënier te word en om die restourantbedryf te betree.
Hy vertel van die besluit om sy eie restourant oop te maak, waarna hy vir 14 jaar by twee baie suksesvolle restourante betrokke was as mede-eienaar en bestuurder. Hy en Theo gesels oor wat hulle reg gedoen het in ’n industrie waarin mense maklik faal. Die rol wat hulle gespeel het in die verandering van die restourantbedryf in Suid-Afrika kom ook onder die loep.

In die laat 90’s het Jan, as ultimatum van sy toekomstige vrou, besluit om die restourantbedryf te verruil vir boetiekhotelle in wildreservate. Jan vertel hoe hulle dit reggekry het om Jaci’s Lodges, een van hulle eerste boetiekhotelle, as een van die top 100 hotelle in die wêreld aangewys te kry. Theo en Jan bespreek die verskille tussen die bestuur van ’n hotel en ’n restourant, asook die redes waarom hy uitgebrei het na onder andere ’n unieke hotel in die Kaapse middestad.

Jan gee advies aan mense in die hotel- en restourantbedryf. Hy brei uit oor wat dit verg om suksesvol te wees in ’n veranderende bedryf, met veeleisende kliënte. Hy deel die raad wat hy aan sy twee seuns gegee het toe hulle aandui dat hulle in sy voetspore wil volg. Sy advies is dat dit die seuns 10 jaar sal neem alvorens hy meen hulle reg sal weees om die gasvryheidsbedryf met sukses te betree.

Piet Mouton

Uitvoerende hoof, PSG Groep

Vanaand is Theo se gas Piet Mouton, uitvoerende hoof van die PSG Groep. Piet vertel oor die daaglikse sakegesprekke in sy ouerhuis en die uitdagings om as ’n 34-jarige by sy pa Jannie as uitvoerende hoof oor te neem. Toe Piet in Junie 2010 as uitvoerende hoof aangestel is, was PSG se markwaarde R5,5 miljard. Vandag is die maatskappy se markwaarde meer as R20 miljard. Theo vra Piet uit oor hierdie groei onder sy leiding en bespreek van die faktore wat daartoe bygedra het.

Hulle gesels ook oor Piet se rol en wat hy van die senior mense en filiaalmaatskappye in die groep verwag.

Hy verduidelik hoe dit gekom het dat die afkorting “PSG� onder van die senior mense in die groep bekend staan as “Piet se geld�.

Piet verduidelik ook waarom hy graag van sportvergelykings gebruik maak om besigheid te verduidelik. Hy is optimisties oor PSG en vertel waarom die groep omtrent al hulle kapitaal in Suid-Afrika aanwend.

Sven Thieme

Uitvoerende voorsitter Ohlthaver & List

Theo se gas vanaand is Sven Thieme, uitvoerende voorsitter van die Namibiese groep Ohlthaver & List.

Hierdie familiebesigheid is in 1919 gestig en word vandag deur Sven, ’n kleinseun van die oorspronklike stigter bestuur. Die onderneming het ’n jaarlikse omset van sowat R5 miljard en bied werk aan meer as 5 000 mense. Die groep is in Suid-Afrika veral bekend vir Windhoek Lager, ’n bier wat hulle sedert die 1920’s brou.

Behalwe vir sy rol by O&L is Sven voorsitter van die Namibiese Uitsaaikorporasie en president van die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid. Hy dien ook op die Namibiese Beplanningskommissie. Theo gesels met Sven oor sy vyf kritiese punte vir “deurbraakdenke�. Theo pols Sven oor sy manier om amper onbereikbare doelwitte te stel en hoe die skep van ’n kunsmatige krisis om hierdie doelwitte te bereik, onderliggend tot die sukses van die groep is.

Hulle gesels oor hoe O&L dit regkry om gereeld aangewys te word as die beste werkgewer in SADEC en die rol wat bestuur speel om mense gelukkig te hou.

As ’n familiebesigheid wat 95 jaar oud is, deel Sven sy filosofie oor suksesvolle familie-ondernemings. Hy brei ook uit oor die grootste fout wat só ’n onderneming kan laat struikel. Sven gesels oor hul strawwe doelwitte vir 2019 wanneer hierdie groep 100 jaar oud word.

Japie Gouws

Ooreenkomste tussen sake en kultuur

Die ATKV het in 1930 ontstaan as ’n debatvereniging. Dié stigtersgroep het uit spoorwegwerkers bestaan wat ten doel gehad het om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder. Wat hierdie groep van ander soortgelyke organisasies onderskei, is die aankoop van ’n plaas naby Hartenbos in 1936. Hierdie plaas is ontwikkel in ’n vakansie-oord.As deel van die ATKV se sakebelange, besit die organisasie vandag onder meer sewe ontwikkelde vakansie-oorde en twee aftree-behuisingsprojekte. Lidmaatskap van die ATKV is in die laat 80’s oopgestel. Die organisasie word as ’n maatskappy op gesonde sakebeginsels bestuur.

Japie Gouws, besturende direkteur: ATKV is ’n geoktrooieerde rekenmeester met jare se ervaring as die finansiële hoof by van die land se grootste landboubesighede. Hy is ook die eienaar van ’n ketting skryfbehoeftewinkels in die Suid-Kaap.

Dit is opvallend dat dit juis hierdie sterk finansiële agtergrond, tesame met ’n natuurlike liefde vir kultuur is wat van Japie die ideale persoon maak om só ’n unieke model te bestuur. Hy beklemtoon dat sake en kultuur twee aparte fokuspunte het, maar dat daar ook ooreenkomste is.

“Ons probeer goeie sakebeginsels by kultuur toepas sodat jy ’n volhoubare maatskappy volgens besigheidsbeginsels daarstel.�  Hierdie samewerking kan as “goeie kruisbestuiwing� voordele vir altwee afdelings inhou.

Een van die fokuspunte van die ATKV is onderwys. Japie sê dit is alle Suid-Afrikaners se verantwoordelikheid om nie net op die paar duisend goeie skole te fokus nie, maar op die meer as 20 000 swakker skole.  Die ATKV glo “onderwys is ook my verantwoordelikheid�.

Na aanleiding van Japie se ervaring in die landbousektor wou Theo graag sy mening hoor oor die landbou. Dit is Japie se indruk dat boere en die landbou as geheel uitstekend daarin slaag om aan te pas.

“Suid-Afrikaanse boere is van die beste landbouers in die wêreld�. Hy meen indringende debat is nodig om landboukwessies aan te spreek, maar ook dat die landbou se groot potensiaal ontgin moét word vir ’n rooskleurige toekoms vir die sektor.

Dit is opvallend dat Japie en die ATKV hard werk vir ’n beter Suid-Afrika vir almal. Regdeur die onderhoud kry ek die gevoel dat kultuur hier beskou word as ’n samebindende instrument op die pad na ’n beter Suid-Afrika en nie as ’n verdelende wig ingehammer word nie.

Miskien het die ouens in 1930 nie besef hoé versiende die konsep is om ’n volhoubare sakemodel te bou ter ondersteuning van kultuurdoelwitte nie, maar hulle het verseker vir Suid-Afrika ’n besondere nasionale bate nagelaat.

Hendrik Marais

Van pynappels tot skroewe en boute

Hendrik Marais is wat ’n mens ’n reeks-entrepreneur sou kon noem.Hy het al verskeie ondernemings begin, ander gekoop en uitgebrei – en ook gesien hoe hulle swig onder druk.As skoolkind het hy pynappels verkoop en vandag bedryf hy Eureka, ’n eenstopwinkel vir alle “vasmaakmiddels�, van skroewe tot gom. Eureka het meer as 650 werknemers en 50 afleweringsvoertuie op die pad wat uit ’n kompleks van 30 000 m² meer as 2 000 ysterwarewinkels van onder meer boute, moere, spykers en skroewe voorsien.Marais sien homself nog as ’n smous. Sy “roeping� as verkoopsman is uit nood gebore – dit was die enigste manier om sakgeld te verdien, want hy het baie arm grootgeword. (Maar ’n gebrek aan geld is geen verskoning om nie verder te studeer nie, sê hy, en “dis nie jou ouers se verantwoordelikheid om vir jou studie te betaal nie�.)’n Vraag waarmee entrepreneurs gereeld worstel, is of hulle ’n bestaande onderneming moet koop of self een van niks af moet opbou. Marais het al albei gedoen – verskeie kere – en “geleer uit harde ondervinding�.Barney’s Paints het hy by die stigter, Barney Marks, gekoop en uitgebou tot 11 ysterwarewinkels.

Eureka het hy van niks af opgebou met die kennis wat hy opgedoen het toe hy Barney’s bestuur het.

Marais meen albei maniere het meriete, en as jy die bedryf ken, gaan jy weet waar die geleenthede is.

Sy vertrekpunt is dat klante altyd waarde vir hul geld moet kry. “Ons kan meer geld maak, maar dan gaan die onderneming nie volhoubaar wees nie. Of dit nou goedere of dienste is, jy moet altyd seker maak dat die klante beter daaraan toe is sónder die geld en mét die goed.�

Sy bonus- en winsdeelstruktuur is uniek. Hy grond kwartaalliks bonusse op die winsgewendheid van die hele onderneming. “As daar nie ’n wins is nie, dan deel ons nie.�

Sake is ’n spanpoging, sê hy. “Elkeen in die span moet deel in die sukses as ’n persentasie van sy salaris.� Die uitsondering is verkoopsmense – hulle werk op kommissie omdat hulle dit kan beheer.

Die struktuur moenie gemanipuleer kan word nie, “anders verloor mense vertroue daarin�.

Word entrepreneurs gebore of word dié vaardigheid aangeleer?

“Party mense gaan sukkel; ander het weer ’n vuur om hul eie onderneming te wil hê. Maar almal kan leer om ’n beter entrepreneur te wees.�

Jack van der Merwe

 

Die Gautreinprojek is formeel in 2000 aangekondig met Jack van der Merwe wat van dag een aan die stuur van sake was. Eers was hy deel van sy departement se span en in 2004 word hy die uitvoerende hoof van die Gautrein-bestuursagentskap. In die beplanningsfase het Jack 38 lande besoek om na verskeie soortgelyke projekte te kyk. Hy wou sien wat hy kon leer by ander.

Die destydse minister van finansies, Mnr Trevor Manuel, het daarop aangedring dat Jack twee keer San Francisco toe gaan, omdat hulle publieke vervoerprojek die “bes-gedokumenteerde onsuksesvolle projek� is. Jack wou weet presies wat werk en wat mense anders sou doen as hulle weer kon besluit. Hy was ook deeglik bewus van wat níe gewerk het nie.

Sy raad aan buitelandse besoekers wat deesdae na die Gautrein as suksesverhaal kom kyk, sluit altyd in dat die projek ’n “kundige kliënt met politieke ondersteuning� moet hê. Hierdie kliënt moet bereid wees om nie net lang ure te werk nie, maar ook lank aan te bly. Die rede is dat dit 14 jaar kan neem vandat ’n projek aangekondig is tot die president die lint sny.

In die geval van die Gautrein het die Gauteng regering ’n kabinetkomitee saamgestel wat Jack binne 72 uur bymekaar kon roep om op ’n deurlopende basis besluite te neem. Hy verwys na ’n geval in 2006 toe die destydse premier van Gauteng, Mnr Mbhazima Shilowa, ’n radiostasie geskakel het toe hy meen Jack word deur onregverdige vrae gepeper.

Hy meen groot openbare vervoerstelsels moet deur die staat ondersteun word. Dit is tog ’n diens wat tot voordeel van die gemeenskap strek. Genève het byvoorbeeld 350 000 inwoners, maar daar werk meer as ’n miljoen mense in die stad. Die vervoerstelsel beweeg met 10-minuut tussenposes in die dag en 20-minute in die nag. ’n Goed-uitgewerkte netwerk dek elke kilometer.

Die gevolg is dat, gedurende die dag, jy nooit meer as nege minute wag nie. Verder hoef jy nie meer as 1km na ’n halte te stap nie. Hierdie stelsel word “ ’n derde deur die gebruiker, ’n derde deur die stad en ’n derde deur die regering betaal. Dit werk,� sê Jack.

Hy is trots op die feit dat die Gautrein sonder enige finansiële  skandale en elke jaar met skoon oudits kan spog. Jack stel dit onomwonde dat gesonde finansiële bestuur ’n wilsbesluit is, ’n besluit dat alles reg gáán verloop.

Hy wys sy nuutste vierbladsyverslag van die ouditeurgeneraal met trots. (Die grootste deel van die verslag bestaan uit die dekbrief en die bedanking vir die Gautrein se volle samewerking.)

Oor sy advies aan jong ingenieurs meen Jack dat mens “moet die eerste vyf jaar gaan werk vir ondervinding en nie vir geld nie. Jy moet net genoeg geld kry om te kan oorleef. Dit gaan oor ervaring meer as geld�.

Brian Dames

As jy die uitvoerende hoof van Eskom is, kan jy nie juis probleme onder die tapyt invee nie. As die krag afgaan, weet álmal dit – onmiddellik. En wie kry die skuld? Die baas.
Brian Dames is aan die vooraand van die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 aangestel as uitvoerende hoof. Hy het 23 jaar ervaring by Eskom gehad.
Hy het letterlik op ’n Vrydag aan die Universiteit van Wes-Kaapland gegradueer en die Maandag by Eskom se Koeberg-kragstasie begin werk. Hy was Suid-Afrika se eerste swart kernfisikus. Hy kon nie die kantien gebruik nie en mag ook nie saam met die ander jong gegradueerdes geëet het nie – sy werknemernommer het dit so beklemtoon!
Ná ’n draai by Stellenbosch was Dames een van twee Eskom-werkers wat gekies is vir ’n MBA-kursus in die VSA, en sy pad na ’n senior bestuurspos het begin momentum kry.
Dames het in ’n stadium in sy loopbaan aansoek gedoen om ’n laer pos, spesifiek om meer ervaring op te doen. As hy loopbaanadvies gee, beklemtoon hy die beginsel “maak seker wat jy nou doen, jy baie goed doen�.
Terug by 2010: Dames het besef die enigste manier om die Wêreldbeker-sokkertoernooi sonder kragonderbrekings te kon aanbied, is as almal in Eskom eers glo dat hulle dit kan doen. Hy het die land vol gevlieg en elke kragstasie en aanleg besoek met die doelwit om die personeel te oortuig dat hulle die “Eskom-hempie weer met trots en passie kon dra�.
Hy beklemtoon dat “mense inherent nie lui is nie� en gebruik ’n sportanalogie: “Mense is Saterdag opgewonde as hulle hul sportspanne ondersteun, maar dan kom Maandag. Die uitdaging vir leiers in om konteks te skep waar baie energie is!�
Dames het in Maart bedank en is tans ’n nie-uitvoerende direkteur van Nedbank en ’n senior adviseur van McKinsey.

Jeanne Groenewald

Klein begin is groot gewin

Jeanne Groenewald se Elgin Free Range Chickens is gebore uit haar geloof dat haar gesin gesonder kos verdien — kos sonder hormone en antibiotika.

Groenewald het ’n BSc-graad in landbou van die Universiteit Stellenbosch agter haar naam gehad en het ook, voordat sy getroud is, haar pa met dié se eende-onderneming uitgehelp. Maar die hoenderonderneming is eintlik sonder ’n sakeplan of toekomsvisie begin.

Sy het eers net genoeg hoenders aangehou vir haar gesin se gebruik. Dit was egter nie lank nie of familielede en vriende het bestellings begin plaas vir haar lekker hoenders, “wat op ’n ander manier grootgemaak is�. Eers was dit 150 hoenders elke agt weke, toe 150 elke vier weke — en vandag lewer Elgin Free Range Chickens meet as 80 000 vrylopende hoenders elke week aan verskeie winkelgroepe, deli’s en restourante.

Om die klein hoenderboerdery in ’n volwaardige kommersiële onderneming te ontwikkel, was die mylpaal om 2 000 hoenders per week te produseer, ’n groot stap. Dit was ook die punt waarop Groenewald leningskapitaal moes kry. Voor daardie punt “het ons baie foute gemaak. Die grootste ding is om stadig te groei. Die foute wat jy maak, moet jou nie doodmaak nie, jy moet oor die hobbels kan kom.�

Sy het sterk begin steun op spesialiste en adviseurs en beklemtoon die beginsel van “groei wat jy kan beheer�. Die grootste prestasie was dat haar ondememing “nog altyd produkintegriteit en gehalte kon behou�.

Dis maklik as jy “100 hoenders buite jou kombuis het en jy ken elkeen se naam�. Die uitdaging is om dieselfde te doen as jy 80 000 hoenders per week grootmaak.

Delegering is vir Groenewald, soos vir die meeste entrepreneurs, ’n tameletjie. “ ’n Mens voel niemand is so goed soos jy nie — jy is beter met alles.� Haar raad is dat jy mense die reg moet gee om besluite te neem, maar daarmee saam moet jy aanvaar as hulle foute maak.

Sy moedig werknemers wat ’n fout begaan het aan om ook ’n oplossing te vind.

“Die grootste ding is om stadig te groei. Die foute wat jy maak, moet jou nie doodmaak nie — jy moet oor die hobbels kan kom,” Jeanne Groenewald

Dr Simon Marais

Dr simon

Voorsitter van Allan Gray

Hoe beland ’n persoon met ’n doktorsgraad in fisika van die Universiteit van Cambridge in die beleggingswêreld?

Dr. Simon Marais, voorsitter van Allan Gray, meen “fisika is ’n goeie opleidingsagtergrond vir omtrent enigiets – dit is baie wiskundig maar meer prakties�.

“In die vroeë 1990’s het die banke en finansiële instellings begin agterkom die ouens wat die meeste geld in die markte maak, is die wiskundiges en wetenskaplikes,� sê hy.

“Die basiese goed wat nodig is in finansiële dienste is nie baie moeilik nie – jy moet balansstate en inkomstestate kan lees. Fisika help jou egter om ingewikkelde stelsels te benader.�

Vinnige opgang

Marais se opgang by Allan Gray was verstommend.

Hy het in 1991 in die IT-afdeling begin, twee jaar later ’n direkteur geword en tien jaar later hoof van beleggings.

In 2002 is hy en sy gesin Londen toe waar hy hoof van navorsing van Orbis, Allan Gray se internasionale afdeling, geword het.

In 2005 het die Marais-gesin moeg geraak vir die Engelse weer en na Australië verhuis waar hy Allan Gray Australië begin het. Hy besit steeds 50% van dié onderneming. Allan Gray Australië is een van die suksesvolste Australiese fondsbestuurders en bestuur tans sowat R40 miljard namens beleggers.
Hy skryf sy sukses toe aan sy beleggingstyl: Contrarian.

’n Goeie tyd om ’n bate te koop, is as al die ander kenners dit verkoop. As jy ’n bate koop, moet jy onthou dat daar ’n ander kenner is wat verkoop, en jy moet weet hóékom. “As als goed gaan, hoekom gaan iemand teen ’n goeie prys aan jou verkoop?�

Die ideaal is om te koop as daar iets is wat ander beleggers uitskud, soos swak resultate vir drie of vyf jaar.

Hy sê ’n mens “moet jou nie soveel bekommer oor al die veranderlikes nie. Kry daardie twee of drie goed reg wat werklik belangrik is – en wys my dat ek ’n goeie prys betaal.�

Die toekoms bly maar duister

Wat sukses so moeilik maak, is dat jy “onderhandel met die toekoms – niemand weet wat gaan gebeur nie�.

Op die vraag hoe Suid-Afrika se kundigheid met die res van die wêreld s’n vergelyk, antwoord Marais dat “ons altyd dink ouens daar is slimmer, maar dit is nie so nie�. Suid-Afrikaners vaar goed in Londen en in Australië, sê hy. “Die een ding is, ons is meer ondernemend.�

Met meer as 20 jaar ervaring beskou Marais Naspers as sy beste belegging nog. Hy het sy eerste huis in die Kaap gekoop deur sy Naspers-aandele te verkoop. Hy beskou dit “as die duurste huis in die Kaap vandag�, aangesien Naspers se prys daarna sowat 30 keer vermenigvuldig het!

Hy vertel die staaltjie dat hy op ’n keer met ’n paar tekkies en sy pak klere ’n aanbieding moes doen. Sy bagasie het op ’n vlug soek geraak en “waar kry ’n ou nou ’n nr. 15-skoen (hy is meer as 2 m lank) op kort kennisgewing?�

Volgens Marais moet jy in elk geval oppas vir ouens wat te netjies aantrek; hulle het gewoonlik ’n plan. “Is die grootste skelms nie altyd die beste aangetrek nie?�

Beleggingsadvies van Simon Marais: Twee beginsels

1. “Luister na wat almal om die braaivleisvuur doen en doen dan die teenoorgestelde.� Hy bedoel dat wanneer almal reeds dieselfde doen, is dit gewoonlik nie ’n goeie idee nie. Die mark het reeds hierdie aksies verdiskonteer.

2. Wanneer iemand aan jou hoë opbrengste belowe, sê miskien iets naby aan 20%, moet jy dit nie doen nie. “Dit werk nie,� beklemtoon Simon. Daar moet iewers ’n onderliggende besigheid wees wat hierdie opbrengste kan verdien. As jy nie “presies verstaan hoe dit werk nie, pasop. Die wiskunde wys jou dat sulke hoë opbrengste oor lang periodes net nie moontlik is nie�.

Simon voeg by ons moet besef dat beleggingsopbrengste die laaste 10 jaar buitengewoon was. Dit kan nie vir altyd so aangaan nie. Daar kom ’n tyd wanneer hierdie opbrengste weer terug gegee gaan word.

Dries Visser

dries

Skaarswildboer

Ek wou met ’n leiersfiguur in die skaarswildbedryf gesels, iemand wat daar was voor dit populêr geword het om met wild te boer. Iemand wat ’n rol in die groei van die bedryf gespeel het en wat vandag steeds ’n leidende rol in die bedryf het. Dries Visser is só ’n leier.

Dries Visser het baie arm grootgeword, die jongste van 10 kinders wat deur hul ma grootgemaak is. Soos Dries dit stel: “Die enigste vermaak was die veld, daar was nie geld vir speelgoed nie�. Dit is hier waar sy liefde vir die veld vir altyd gevestig is.

Na skool raak Dries in die Vaaldriehoek in die eiendomsbedryf betrokke wat hom die geleentheid gee om in 1973 ’n deposito op sy eerste plaas kon neersit. Hy het toe reeds besef dat wildboerdery die bedryf vir die toekoms is. Hy was een van die eerste boere in die omgewing wat in daardie jare sy plaas met wildweringsdraad toegespan het. In 1983, na 17 jaar in die eiendomsbedryf, besluit Dries om permanent na sy geliefde bosveld te verhuis en hom heeltyds op die jag- en wildteelbedryf toe te spits.

In 1989 kom Dries die eerste keer in aanraking met oorsese jagters en besef gou dat hy op hierdie kliënte moet fokus. “Hulle is baie meer welvarend as biltongjagters,� verduidelik Dries. Dit kom duidelik uit in die onderhoud dat 1994 en die koms van die demokrasie die groei in die Suid-Afrikaanse jag- en wildteelbedryf in ’n hoër rat geplaas het. Dries se besigheid het ’n geweldige hupstoot gekry.

Vir die eerste keer was die res van Afrika oop vir Suid-Afrikaners. Soos Dries dit stel: “Suid-Afrikaners is nie meer net as spioene gesien nie�. Hulle het ál meer in kontak gekom met gegoede internasionale jagters wat later ook na Suid-Afrika sou kom. Die Suid-Afrikaanse jagbesigheid het floreer deur “kontakte wat in die noorde gemaak is na Suid-Afrika te bring�.

Zambiese swartwitpense

Dries praat passievol van die Zambiese Swartwitpens wat hy in die Kafue opgemerk het. Hy het dadelik besef dat hy hierdie pragtige diere op sy plaas in die Thabazimbi distrik moes kry.

Luando Dries Visser Auction Zambian Sable For Sale
Luando, Dries Visser Zambiese swartwitpens teelbul
Hy verwys na die invoer van 17 van hierdie swartwitpense na sy plaas as “my boerpot wat ek in die lewe geslaan het�. Hierdie pragdiere vorm vandag die kern van Dries se Suid-Afrikaanse swartwitpenskudde. As jy na hulle kyk, besef jy weereens waarom Dries so trots op sy Zambiese swartwitpense is.

Oor die verhouding tussen bewaring, jag en die teel van uitsoekdiere neem Dries baie sterk standpunt in: “Die waarde op ’n dier word deur die jagter geplaas. Die jagter gee al die geld vir die wildbedryf en bewaring�. Hy maak die gevolgtrekking dat, as die jagter nie miljoene rande sou spandeer nie, daar ook nie genoeg geld vir die bewaring en aanteel van skaarswild sou wees nie.

Die kapitaal vir die groei en voorbestaan van die wildteelbedryf word dus volgens Dries deur die jagter verskaf. “Alle eer aan die jagter,� sê Dries, vir die finansiering van die wildbedryf.

As dit kom by die jag van trofeewild, meen Dries Visser: “Dit is die boer se plig om kwalitiet in the bedryf terug te plaas,� anders is die besigheid nie op die langtermyn volhoubaar nie.

Suid-Afrika teel kwaliteit wild

Toe ons ná die onderhoud na foto’s van sy diere kyk, maak Dries die opmerking dat, in sy opinie, al die jagrekords (in term van horinglengtes) gedurende die volgende 10 tot 20 jaar oortref gaan word. Die rede is die plaaslike fokus op die teel van uitsonderlike diere, komende van die beste genetika.

Ons lees deesdae van R40m vir ’n buffel of R12m vir ’n swartwitpens. Ek wou graag Dries se opinie oor hierdie duur pryse hoor. Hy meen dat mens hierdie pryse versigtig moet interpreteer. Sy raad is: “As jy rondkyk kan jy dalk dieselfde diere vir beter pryse koop�. Hy sê ook ouens betaal miskien hierdie pryse deels om ’n premie op die nageslag van hierdie diere in die toekoms te kan verdien.

Oor die volhoubaarheid van die bedryf meen Dries die toekoms vir die volgende dekade of twee is rooskleurig. Kuddes word mooi opgebou. Hy sê egter tog dat daar op ’n stadium ’n plafon bereik kan word. Dan gaan die pryse van vroulike diere waarskynlik begin afkom. Die pryse van besondere trofeediere gaan egter steeds deur internasionale jagters ondersteun word.

As dit kom by advies aan nuwe toetreders tot die bedryf het Dries Visser ’n interessante en amper vaderlike vertrekpunt. “Jong ouens hoef nie die skoolgeld te betaal wat ons ouer ouens betaal het nie. Hulle kan net vra en ons sal met groot liefde raad gee.� Hy motiveer sy stelling deur te beklemtoon dan dit in die hele bedryf se belang is dat ons ’n sterk en gesonde bedryf bou.

Rekordhouding voeg waarde tot wildteel

Hy voeg hierby die belangrikheid van goeie beplanning. Ook dat jy “kwaliteit by eerbare mense moet koop�. Laastens beklemtoon Dries die belangrikheid van goeie rekordhouding van jou diere, sodat jy altyd weet wat jy het.

Dries is positief oor die toekoms van die wildbedryf. “Suid-Afrika gaan die bestemmingsland van jag word vir die oorsese jagter, aangesien ons die getalle en die kwaliteit het.� Oorsese jagters kom vir die “buffels en swartwitpense,� verduidelik Dries Visser. Hy sê hulle spandeer uiteindelik dan ook baie meer op ander wild, as hulle eers hier is.

Ek weet nou waarom die gerekende telers in die bedryf nie sommer iets aanpak alvorens hulle nie met “oom Dries� gesels het nie. Sy toewyding en vertroue in die toekoms van die teel en uitbou van pragtige skaarswild is aansteeklik.

Ek dink ons aanvaar partymaal te maklik dat diere net sommer gaan voortbestaan en dat ons kinders ook die skaarswildsoorte gaan kan sien. Miskien fokus ons egter nie genoeg op die finansieringsrol wat die jagter in hierdie ketting speel nie. Dries bewys dit met sy pragtige Zambiese swartwitpense, om nie eens oor sy buffels en ander diere te praat nie.