Dr. Japie van Zyl

THEO&JAPIE

Mededirekteur verantwoordelik vir strategie en projekformulering by Nasa se Jet Propulsion Laboratory

Die uitdaging van ’n onderhoud met iemand soos dr. Japie van Zyl, mededirekteur van Nasa se Jet Propulsion Laboratory (JPL), is om te besluit wat om in die redigeringsproses uit te laat. Jy voel asof jy iemand iets waardevols ontneem as jy iets uitsny. 

Sy loopbaan is een van daardie wat jou in absolute verwondering laat – die reis van ’n seuntjie wat na die sterrehemel kyk na ’n wêreldleier in die studie van die ruimte en ruimtereise.
 
Van Zyl lig veral drie mense uit wat ’n besondere rol gespeel het om hom te help om sy Nasa-droom te bereik.

“Ongetwyfeld my ma,� wat, soos hy dit stel, geglo het in hierdie “Nasa-ding wat ek gehad het�. Sy het selfs aan van die eerste ruimtevaarders briewe geskryf waarop Buzz Aldrin selfs ’n getekende foto aan hom daar doer in die Kaokoland gestuur het.

Dan sy skoonpa. Toe hy gesukkel het om geld bymekaar te maak om in Stellenbosch te gaan studeer, het dié hom een aand gekontak met die boodskap dat, indien hy nie ’n beurs kon kry of geld kon bymekaar maak nie, hy vir sy studie sou betaal, mits hy nooit sy dogter sou vertel nie. 

Van Zyl het ’n beurs gekry, maar sy skoonpa is oorlede voordat hy met Kalfie getroud is en ook voordat hy sy droom kon uitleef.

En Twaksak, oftewel Giel du Toit, ’n laerskoolonderwyser. Twaksak het selfs jare later Van Zyl na Johannesburg vergesel om hom te ondersteun in sy soeke na ’n beurs. 

Al hierdie mense het een ding gemeen gehad: Hulle het in Van Zyl geglo en in die “Nasa-ding wat ek gehad het�.

Die droom het Van Zyl met absolute oorgawe en harde werk gevolg. 

As een van die vier direkteure van die JPL werk hy met van die slimste en kreatiefste mense ter wêreld. Die meeste het doktorsgrade in wiskunde, fisika en ingenieurswese. Hulle werk in ’n raamwerk van “vryheid met reëls�. Dis soos “om ’n klomp paddas op ’n platbak-kruiwa oor ’n rugbyveld te stoot�, en sy rol is om met die kruiwa vol paddas anderkant uit te kom. 

Die projekte wat Nasa bestuur, is enorm. Wanneer toerusting duisende kilometers van jou af is en selfs die kleinste foutjie tot verliese van miljarde dollars van belastingbetalers se geld kan lei, is ’n uitsonderlike kultuur in die organisasie nodig. 

By Nasa dra elke persoon volle verantwoordelikheid vir wat hy doen, of jy ’n senior projekbestuurder of ’n tegnikus is wat ’n draadjie soldeer, sê Van Zyl. As jy nie met iets gelukkig is nie, bly dit jou verantwoordelikheid om seker te maak dit word reggestel, al gaan jou baas nie daarmee gelukkig wees nie. 

En jy “toets wat jy vlieg en jy vlieg wat jy toets�. Dit beteken dat jy nooit in werklike omstandighede iets vreemds of nuuts sal aanvang nie. Jy gebruik dít wat jy getoets het en pas dit dan so toe in die werklike omstandighede. Jy probeer nie dan iets “oulik� nie. 

Wanneer jy doelwitte stel of jou prestasie meet, meet jy dit nie aan ander om jou nie, maar aan jouself. 
“As jy met iemand anders meeding, stel jy mos vir jouself ’n plafon, en as jy dít bereik, wat is dan volgende?�

Van Zyl is tans betrokke by die soeke na lewe op ander planete. Hy meen daar is genoeg planete wat die regte afstand van ’n son af is (hy raam dit op sowat 500 miljoen) sodat water kan vorm wat die basis skep vir lewe. Dit gaan meer oor wat die ontwikkelingsvlak van daardie lewe is. 

Sy mening oor godsdiens en wetenskap is eenvoudig: Daar is geen teenstrydighede tussen die wetenskap en die skepping of godsdiens nie. Hy verstaan trouens nie waaroor die debat gaan nie. 

Ná die opname stel hy dit nog sterker: Hy weet nie of daar enige werklike wetenskaplikes by Nasa is wat twyfel oor die bestaan van die skepping en ’n godheid nie. 

As jong wetenskaplikes of ingenieurs ooit ’n rolmodel gesoek het of getwyfel het aan die geleenthede in die wetenskap, dan is dr. Japie van Zyl die rolmodel. 

Dit is ’n voorreg om met iemand te gesels wat trots is op sy prestasies – en met goeie rede – en praat so asof hy opreg elkeen nooi om hul eie drome met dieselfde energie na te volg.

Laastens gaan ek hoor waarmee Van Zyl tans besig is en wat hy nog op hierdie wetenskaplike ontdekkingsreis wil bereik.

0 replies

Leave a Reply

Want to join the discussion?
Feel free to contribute!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *