Markoorsig: Oktober 2014

Familiebesighede word soms onderskat

Die Economist tydskrif het ’n baie insiggewende artikel gepubliseer oor familiebesighede en waarom familiebesighede suksesvol is. Die verwagting 50 jaar gelede was dat familiebesighede (die definisie wat hulle gebruik is dat die familie meer as 18% van die aandele moet besit en ook die reg moet hê om die uitvoerende hoof te mag aanstel), stadig gaan verdwyn. Ook dat die besigheidslandskap deur professioneel-bestuurde besighede besit deur finansiële instellings oorheers gaan word. Dit het nie gebeur nie. Vandag is 18% van die maatskappye in die Fortune 500 familiebesighede, meer as die 15% wat dit in 2006 was.

In Europa word meer as 40% van die groot genoteerde besighede steeds deur families beheer.

Voorbeelde van  sulke besighede, in geen spesifieke volgorde nie, hierdie paar bekende familiebesighede: Walmart, Volkswagen, Toyota, Ford, Samsung, Louis Vuitton, Clarins, Marriott, Heineken, Fiat, BMW, Gap, Levi Strauss en Porsche, om dan nie eens van die jong generasie IT maatskappye soos Apple, Microsoft, Facebook en Google, tesame met Warren Buffett se Berkshire Hathaway, te praat nie. Buffett het reeds aangekondig dat sy seun by hom as voorsitter gaan oorneem en dat sy kleinseun daarná gaan oorneem as voorsitter.

Die artikel raak werklik interessant as mens na die redes vir die groei en uitprestasie van familiebesighede kyk. In die artikel word die volgende redes aangevoer:

  1. Daar was ’n baie talentvolle entrepreneur wat die besigheid geskep het wat, in sy leeftyd, die vryheid geniet het om dinge gedoen te kry (onder andere as gevolg van die beherende aandeelhouding) wat ’n mededingende voordeel aan die maatskappy gegee het. Erfgename kry dit reg om hierdie voordeel te gebruik ná die heengaan van die stigter deur by die beginsels, soos deur die stigter neergelê, te hou.
  2. Privaatmaatskappye het ’n baie langer termyn siening oor die besigheid. Wanneer daar nie ’n beherende familie is nie, is maatskappye geneig om te fokus om korttermyn opbrengs vir aandeelhouers te gee en nie altyd op wat die beste vir die maatskappy in die langtermyn is nie.
  3. Familiebesighede het gewoonlik minder skuld. Hierdie afsydigheid teenoor skuld kan groei in die korttermyn temper, maar maak die maatskappye baie meer bestand teen skokke in moeiliker tye.
  4. Familiebesighede het gewoonlik beter arbeidsverhoudinge en ook ’n beter korporatiewe kultuur. Die werknemers glo baie makliker die stigter of sy familie wanneer dit kom by langtermyn beloftes, as ’n professionele bestuurder wat dalk oor ’n jaar of twee by ’n ander maatskappy gaan werk.

Daar is ook akademiese studies wat wys dat familiebesighede ander nie-familie besighede oor periodes uitpresteer. ’n Europese studie het bereken dat as jy €1 000 in 2001 in genoteerde Europese familie beheerde besighede belê het, die waarde aan die einde van die dekade sowat €3 533 sou wees. Indien jy dieselfde in genoteerde nie-familie besighede belê het, sou die ooreenstemmende waarde€2 241 gewees het. Kortom, die uitprestasie het op sowat 5% addisionele groei per jaar uitgewerk.

Dit blyk dat die grootste uitdaging by familiebesighede die oorgaan van bestuur van een generasie na die volgende is. Dit is juis hier waar familietwis en swak uitvoerende hoofde die besighede kan sink. Die kritiese element hier is om te sorg dat alle besigheidsbesluite volgens sakebeginsels moet geskied en dat daar ’n onderskeid tussen die familie en die besigheid getref moet word.

Van die punte wat uitgelig word, is dat familiebesighede nie familielede in senior posisies moet aanstel wat nie bevoeg is nie, net so ook nie mense moet aanstel wat nie die werk wíl doen nie – beide van hierdie aanstellings kan die besigheid sink.

Op die JSE is die beste voorbeeld van ’n suksesvolle genoteerde familiebesigheid sekerlik die Rembrandt groep van maatskappye. Enige persoon wat Rembrandt aandele die afgelope dekades besit het, sal getuig van die uitmuntende prestasie van die besighede.

Die ou beleggingswenk wat steeds gewig dra, is om te sorg “dat jou eie geld is waar die familie se geld is�. Só is jy verseker dat die beherende familie na jou belange ook sal omsien. Kort nadat Jannie Mouton in 2008 vir sy seun Piet as uitvoerende hoof aangestel het, het ek vir Jannie gevra hoe hy op aantygings van nepotisme t.o.v. die aanstelling van sy seun reageer. Jannie se antwoord was eenvoudig: “Al my familie se welvaart is opgesluit in PSG aandele. Ek gaan tog seker maak dat ek die beste persoon kies om na my familie se welvaart om te sien�.

In my Sakegesprek onderhoude het ek met twee opvolg-generasie sakeleiers gesels – Piet Mouton wat by sy pa Jannie oorgeneem het en PSG onder sy bestuur van ’n R5,5 miljard besigheid tot ’n R20 miljard besigheid laat groei het en Sven Thieme wat aan die hoof staan van ’n besigheid wat in in 1919 deur sy oupa gestig is en wat  vandag veral bekend is as die brouers en eienaars van Windhoek Lager.

Hier is die skakels na die twee onderhoude:

Piet Mouton: http://youtu.be/MZm1UAE33PA
Sven Thieme: http://youtu.be/agOeNY-Y988

Kyk ook na die tweede deel (van 3:30 tot 7:30 min) van hierdie onderhoud op kykNET se Dagbreek program wat handel oor familiebesighede:
http://youtu.be/fZZg8BH8Z9sKlik hier vir die Economist artikel

 

Beleggingsprestasie tot einde Oktober 2014

Hierdie ontledings en samestelling is bloot uit die onderskeie indekse gemoduleer. Onthou dat historiese prestasie nie noodwendig ’n voorspeller van toekomstige prestasie is nie.

Markte beweeg nooit in ’n reguit lyn nie

Die JSE algehele indeks (op ’n totale opbrengsbasis beteken dit dat die dividende wat ontvang was gedurende die periode herbelê is), was met 2% negatief die afgelope drie maande. As ons na die afgelope 12 maande kyk, het die JSE vir jou ’n opbrengs van 12,54% gegee. Dit is in lyn met die langtermyn gemiddelde opbrengs oor die afgelope meer as ’n 100 jaar.As mens na die grafiek van die algehele indeks (sonder dividende) die afgelope 15 jaar kyk, dan beleef die mark ’n 10% daling, bykans elke jaar, iewers in die loop van die jaar. Die probleem is egter dat ’n mens nooit weet wanneer dit gaan gebeur en hoe vinnig die herstel gaan wees nie. Dit bevestig die beginsel dat dit beter is om te fokus op jou bate allokasie en seker te maak dat die samestelling van jou bates reg is en om nie te probeer fokus op jou vermoë om te raai wat volgende gaan gebeur en hoe markte daarop gaan reageer nie.

VSA brandstofpryse

As ons in Amerika gewoon het, was die petrolprys nou op dieselfde vlakke as wat dit in laat 2007 en vroeër was en terug op die prys wat dit in Desember 2010 was. Om dit in perspektief te plaas: Die petrolprys in Suid-Afrika is tans sowat R13,00 per liter. In vroeg 2008 was die prys R7,50 per liter en in Desember 2010 was die prys R8,30 per liter.

Die gevolg is dat ons petrolprys nou sowat 73% hoër is as in 2008 en sowat 57% hoër is as in Desember 2010. Hoewel Amerikaanse goedkoop skaliegas ’n rol speel in die laer Amerikaanse energiekostes, is hierdie styging in ons eie petrolprys primêr te wyte aan die swakker rand. Hierdie styging in die petrolprys wys die direkte effek van ’n swakker geldeenheid op inflasie en kostes – nie net vir die verbruiker nie, maar ook vir enige besigheid.

0 replies

Leave a Reply

Want to join the discussion?
Feel free to contribute!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *