Vier groot toekomstige veranderlikes

Beleggingsprestasie tot einde Mei 2015

As ek terugkyk na Mei 2015 was dit nie ’n goeie maand vir beleggers nie. Die JSE het met sowat 4% gedaal gedurende die maand, terwyl ’n gebalanseerde portefeulje met tussen 2.5% en 3.0% gedaal het.

Amper alle bateklasse se opbrengs was negatief in Mei. As mens egter kyk na die prestasie sedert die begin van hierdie jaar toon beleggers se portefeuljes steeds positiewe groei, alhoewel beleggers nie moet verwag dat die wisselvalligheid agter die rug is nie. In hierdie nuusbrief waarsku ek reeds die afgelope 18 maande dat beleggers hul verwagtinge moet temper wat groei betref. Ons begin nou hierdie laer groei ervaar. Die afgelope 12 maande het die JSE Algehele Indeks vir jou ’n totale opbrengs van 8,5% gelewer. Hierdie is beduidend laer as die afgelope vyf jaar se groei van 17.5% per jaar en die afgelope 10 jaar se 17.6% groei per jaar. Ek meen dat hierdie laer groei nader is aan wat ons in die volgende jaar of twee kan verwag.

Beleggers het basies toekomstige groei gaan leen en sal van hierdie groei een of ander tyd moet teruggee. Dit is presies wat ons nou sien. Die langtermyn gemiddelde groei van die JSE (sedert 1900) was sowat 12.5% per jaar. Indien jy dus ’n dekade van 17.5% groei geniet het, is dit net logies dat jy iewers groei van nader aan die 8.5% gaan kry.

As ons die Amerikaanse S&P indeks van die 500 grootste maatskappye neem, daal die mark bykans elke jaar een of ander tyd met meer as 5%. Sedert 1960 het dit nog net in drie jare (1964, 1993 en 1995) gebeur dat die mark nie iewers in die jaar 5% verloor het nie, aldus Deutsche Bank. Deutsche Bank gaan voort en wys daarop dat die mark gemiddeld elke 357 handelsdae (sowat elke 18 maande) met meer as 10% daal.

Ons verhandel nou reeds meer as drie en ’n half jaar sonder so ’n 10% daling. Dit is die derde langste periode sedert 1960 sonder so ’n 10% daling, aldus Deutsche Bank. Voeg hierby dat die Amerikaanse markte tans aan die duur kant is (sowat 12% bo die langtermyn gemiddelde waardasievlakke) en dat van hierdie stygings deels is a.g.v. goedkoop geld in die wêreld, dan kan mens verwag dat ons nie ver van nog wisselvalligheid is nie.

Wat beteken dit vir beleggers?

Baie min, sou ek sê, behalwe miskien:

  1. Selfs teen laer verwagte groei klop aandele (as ’n groei-bateklas) steeds die ander bateklasse as dit kom by groei bo inflasie, alhoewel beleggers hul verwagtinge moet temper en besef dat hierdie groei nie reglynig gaan wees nie.
  2. As jy nuwe geld wil belê, doen dit oor ’n periode van tyd (faseer dit maandeliks in oor 12 maande) sodat enige dalings jou die geleentheid bied om teen laer vlakke in te koop. Onthou, dit is belangriker om te begin en om te belê as om te probeer raai wanneer “die tyd� reg is!
  3. As jy geld wil onttrek uit die mark, gaan gerus voort en moet nie onnodig wag vir hoër waardasievlakke nie.

Beleggings 1

Beleggings 2

 

SmartRand

Besoek gerus SmartRand by smartrand.com vir aanlyn beleggingadvies. SmartRand is ’n aanlyn beleggingsadviesdiens wat advies teen die laagste moontlike koste bied vir enkel-doelwit beleggings soos spaar vir aftrede of spaar vir ’n kind se universiteitsgelde, ’n nuwe motor of selfs ’n oorsese vakansie.

Die advies soos verskaf deur SmartRand word gedoen in samewerking met Theo Vorster en Warren Ingram van Galileo Capital en in terme van Galileo Capital se FSP lisensie (no: 21239) by die RFD.

Vier groot toekomstige veranderlikes

As jy graag voorspellings maak en glo jy kry dit beter reg as die res van die mark (dit is nou die ander sewe miljard idiote wat die planeet met jou deel), is hierdie die vier groot veranderlikes wat die toekoms gaan bepaal (volgens ’n onlangse McKinsey & Co verslag):

1. Verstedeliking in opkomende lande

In die jaar 2000 was 95% van die Fortune 500 maatskappye (die grootste 500 maatskappye in die wêreld) gebaseer in die eerste wêreld, hoofsaaklik in Noord-Amerika en Europa. Teen 2025 (wanneer die Chinese ekonomie groter as die VSA se ekonomie kan wees), gaan daar meer groot maatskappye (met ’n inkomste van meer as ’n $1 miljard per jaar) in opkomende lande gebaseer wees as in Europa en die VSA saam. Die wêreld is besig om te verstedelik teen sowat 65 miljoen mense per jaar (dit kom neer op agt nuwe stede so groot soos London per jaar). Dit beteken dat teen 2025 meer as die helfte van die wêreld se ekonomiese aktiwiteit in die 440 grootste stede in opkomende lande gegenereer gaan word. Dit is oor slegs 10 jaar.

2. Versnelde tegnologiese verandering

Dit het 50 jaar geneem voordat die helfte van die Amerikaanse bevolking aan ’n telefoon gekoppel was. Dit het die radio 38 jaar geneem om 50 miljoen luisteraars te bereik, terwyl die Chinese gespreksplatform WeChat binne enkele jare reeds meer as 300 miljoen gebruikers het. Sowat vyf jaar nadat Apple die iPhone bekend gestel het was daar reeds meer as 1.2 miljoen toepassings (apps soos ons dit ken), wat 75 miljard keer afgelaai is. Minder as 20 jaar gelede het slegs 3% van die bevolking op aarde mobiele kommunikasie gehad. Vandag is daar meer SIM-kaarte as mense op aarde (meer as 60% van die mense het selfone en meer as 30% mobiele toegang tot die internet). Skielik verander maatskappye soos Uber, Alibaba en WhatsApp die wêreld om ons.

3. Nuwe ou mense

Meer as 60% van die wêreldbevolking woon tans in lande waar die bevolkingsgroei onder 2.1% is. Dit is die persentasie groei wat nodig is om die bevolking konstant te hou met inagname van natuurlike afsterwe. In Duitsland is die verwagting (gebaseer op mense reeds gebore wat in 2060 gaan aftree), dat die huidige werkende populasie van 54 miljoen na 36 miljoen gaan daal in die volgende 45 jaar. Die vraag is hoe dit die kapitaalbasis en ekonomiese aktiwiteit van Duitsland en Europa gaan raak. Voeg hierby dat mense ouer word en ’n meer aktiewe lewe lei tot ’n hoër ouderdom, dan gaan hierdie ouer, meer aktiewe bevolking ’n groot rol (moet en wil) speel in toekomstige ekonomiese aktiwiteite.

4. Interkonnektiwiteit

Almal gaan met almal handel dryf. Die tyd waarin wêreldhandel grootliks tussen die VSA en Europa plaasgevind het, is verby. Om ’n voorbeeld te noem: China se handel met Afrika het van $9 miljard in 2000 tot $211 miljard in 2012 gegroei. Meer as ’n miljard mense het in 2010 oor landsgrense beweeg, meer as vyf keer die hoeveelheid mense as in 1980. Hierdie beweging van goedere en mense gaan beteken dat kontak en handel tussen mense, lande en maatskappye baie meer geïntegreerd gaan word.

In die Suid-Afrikaanse konteks kan ons die swart middelklas, wat besig is om baie skerp te groei, byvoeg. In 1994 was daar sowat 350 000 swart mense wat deel van die middelklas was (het 10% van die middelklas uitgemaak). Tans is daar na raming meer as drie miljoen swart mense deel van die middelklas, dus is meer as 40% van die totale Suid-Afrikaanse middelklas swart. Meeste van hierdie middelklasmense bly in die groter stede (net minder as 90%), met dieselfde aspirasies as enige ander stedeling. Soos ons bevolking gaan verstedelik van die huidige 64% na ’n verwagte 70% van die bevolking in die volgende dekades, sal hierdie demografiese verskynsel die ekonomiese en politieke landskap vorm in die volgende dekade of twee en nie die ou in die “Rondalia replika� ampswoning nie.

Ons is baie keer pessimisties oor waarheen die wêreld op pad is en hoe die wêreld agteruitgaan. In die jaar 1800 was daar geen land waar die lewensverwagting meer as 40 jaar was nie, vandag is daar geen land waar die lewensverwagting onder 40 jaar is nie. In Suid-Afrika was die lewensverwagting in 1800 sowat 34 jaar, vandag is dit nader aan 58 jaar, weliswaar steeds ver onder die 80 plus in onder andere Japan, Australië en Spanje. Hierdie is gedeeltelik te danke aan suksesvolle inentingsprogramme, antibiotika en beter voeding.

Met die huidige droogte in Kalifornië (studies reken die ergste in 1 200 jaar), waar groot damme dolleeg is, bote op droë grond staan en magtige riviere so klein is dat jy daaroor kan spring, kyk mense opnuut na die gebruik van water. ’n Interessante artikel in die New York Times het die volgende vraag gestel:

Watter van die volgende gebruik die meeste water:

  • ’n 10 minute stort?
  • ’n Handvol neute?
  • Een bondel wasgoed in ’n wasmasjien?
  • ’n Hamburger frikkadel (of “pattyâ€� in straat-Afrikaans)?

Die antwoord is nogal onverwags. Die 10 minute stort gebruik so 90 liter water, die handvol neute ongeveer 40 liter, die bondel wasgoed bykans 130 liter, maar om ’n 100-gram hamburger frikkadel (“patty�) te produseer, word amper 1 500 liter water gebruik. Hierdie is spesifiek omrede proteïene (in hierdie geval die bees), water direk drink en die graan wat die bees eet ook water nodig het. Om hierdie verder te neem, een eier gebruik amper 200 liter water terwyl een liter melk sowat 880 liter water nodig het.

Neem nou hierdie syfers en voeg dit by die verstedeliking en groeiende middelklas-syfers hierbo genoem, dan beteken dit eenvoudig dat water en die kwaliteit van water al hoe belangriker gaan word – om nie eens te praat van die rol van die boer nie.

Hier is ’n skakel na die artikel waarna ek verwys.

0 replies

Leave a Reply

Want to join the discussion?
Feel free to contribute!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *